Читать книгу Voetstoots - Annelie Botes - Страница 23

16. Sê nou maar jy spoel op ’n eiland uit
27 Junie 2011

Оглавление

Ons gesin is speletjiesmense. Brug, kanasta, rummy, patience, poker. Rummikub, dambord. Domino, triomino, rummoli, solitaire, mastermind, pick-up sticks.

Twee speletjies wat ons nié speel nie, is skaak en name-vanne-diere-dorpe. In ons jong jare wou die grys knol my leer skaak speel. Sommer met die intrap trek hy ’n skaaktruuk op my. My ego was geknou. Koebaai, skaak.

Met name-vanne-diere-dorpe het my ryk verbeelding hom die eerste aand ’n gly gegee. Toe ons items moet uitdink wat met Q begin, is hy nog op soek na ’n naam, toe skree ek al “stop!”

My dier is ’n quisvark. Watse ding is ’n quisvark? vra hy fronsend. Baasspelerig vra ek of hy dan wragtig nie weet wat ’n quisvark is nie. Daar’s nié so ’n dier nié, sê hy. Natúúrlik is daar, kap ek terug, dis die wollerige varke met die lang naels wat in Kenia … Hy het my ’n kyk der kyke gegee, die potlood neergelê en dit was die laaste sien van die blikkantien.

Een van my geliefde speletjies is die eilandspeletjie. Maar dit staan hom boggherol aan, want hy sê daar bestaan nie iets soos sê-nou-maar nie. Hoe op aarde kan ek stories skryf as iets soos sê-nou-maar nie bestaan nie?

Die eilandspeletjie werk só. Sê-nou-maar jy spoel op ’n verlate eiland uit en daar moet jy die res van jou bestaan bly. Op die eiland is al jou gunstelinge op ’n towerwyse altyddeur beskikbaar. Kos, drinkgoed, klere. Fliek. Musiek. Leesgoed. Maar per kategorie kan jy net een iets kies. Daarvoor moet jy lief genoeg wees om mee klaar te kom tot by geraamtetyd.

My kos sal ’n emmer KFC of soesji wees. My drinkding is limonade. ’n Fliek wat ek oor en oor sal kyk, is Out of Africa. As ek net een musieksnit mag luister tot my tande afgeslyt is, is dit die Slawekoor uit Nabucco. As ek ’n man kan kies wat af en toe ’n oornaglanding maak, sal hy gay wees. Sê nie hoekom nie. Maar hy moet sterk van lyf wees vir houtkap en uitspoelgoed aansleep om my eilandhuis staande te hou.

My geliefde Bybelboek sal Jesaja wees. Met ’n leesboek sal ek verskeur wees tussen Clarissa Pinkola Estés se Women who Run with the Wolves en André P. Brink se Oomblik in die wind.

So kan ek aanhou tot verby Nuwejaar. Telkens as ek wegraak in my eilandstories, wil ek hê die gryse moet ook kies. Gewoonlik is dit wanneer ons langpad ry en hy vasgekeer is. G’n wonder hy verpes dit nie. Tog, soms speel hy saam …

Die lewe is kort en ons speel te min. Voor ons ons oë uitvee, sit ons by die ouetehuis finaal vasgekeer op ’n verlate eiland waar sê-nou-maar nie meer saakmaak nie.

Voetstoots

Подняться наверх