Читать книгу Voetstoots - Annelie Botes - Страница 29

22. As vrees soos ’n kombers om jou toevou
20 Oktober 2015

Оглавление

Die mens is geskape met die vermoë om by omstandighede aan te pas. Sonder dié vermoë sou ons emosioneel, en soms ook fisiek, knak.

Iets waarby ek met bitterte sal aanpas, is die ongemak van hitte. Soos om ’n trui te dra terwyl die sweet op my uitslaan. Behalwe die badkamers, het elke vertrek in ons huis ’n dakwaaier. Somer en winter draai die dakwaaier in my kamer.

Onlangs speel ek orrel by Parkheuwelgemeente. Tydens die preek vertel dominee Frans Nel ’n storie oor die mens se kapasiteit vir aanpassing. Die omvang van sy storie het my middelpen uitgeslaan. Weer eens het ek besef tot watter mate Suid-Afrikaners noodgedwonge moes aanpas by geweld en bloedmisdaad. Angstigheid het deel van ons alledaagse bestaan geword, maar ons kom dit nie meer agter nie. Neuk aan in die blinde hoop dat óns nie die volgende nommer in die lykshuis sal wees nie. Spandeer vragte geld op sekuriteit. Ons raak vetter en vetter, want ons wil nie meer teen aandskemer gaan stap nie. Kinders moet binnenshuis speel, want die dae is verby toe hulle op fietse in die straat kon kerjakker.

Dominee Frans vertel van ’n Suid-Afrikaanse gesin wat Amerika toe geëmigreer het. Hulle beland in ’n voorstedelike area sonder mure, elektriese heinings, kamera-oë of buurtwagte. Niémand het alarms of diefwering nie. Huisdeure staan oop en jy kan diep in jou bure se jaarts insien. As die buurt se kinders ’n bal skop, of as die bure wasgoed ophang, of braai, of op die stoep sit en koffie drink, is alles sigbaar.

Dit was vir die Afrikaman eens te veel. Té oop. Onbeskut. Blootgestel aan diewe en plunderaars en moordenaars. Terstond laat bou hy ’n hoë muur rondom sý jaart. Elektriese heining. Sekuriteitshek met ’n interkom. Diefwering by alle vensters. Waenhuisdeur op afstandsbeheer. Afgekordon van bose magte wat mag rondwandel soos leeus wat alles wil verskeur.

Twee weke nadat die sekuriteitsaffêre voltooi is, klop die veiligheidspolisie aan sy deur. Glo ’n horde klagtes van bure gekry oor dié afkordonnery. Wat gaan in daardie huis aan? vra die bure. Hulle dring aan dat die polisie ondersoek instel, want dié nuwe intrekkers hou hulle op met onderduimshede. Dat daar fout is, is gewis.

Dit skets die ingesteldheid van ’n gemeenskap wat nie vier-en- twintig uur van ’n dag op die geknipte wieke van vrees rondvlieg nie. Waar mense aangepas is om inherent behoed te voel. In ons donker land bou ons nóg mure en skrik as die wind snags ’n venster liggies ratel. Ons besef nie meer dat ons grotesk abnormaal lewe nie.

Dis inhokkend vir die psige.

Dis ’n skandvlek vir ons sonland.

Voetstoots

Подняться наверх