Читать книгу Voetstoots - Annelie Botes - Страница 31

24. ’n Rooi matjie van Kittie daar ver oor die see
24 Mei 2016

Оглавление

Soms staan ek dronkgeslaan oor die wedervaringe van ons kinders. Nie net óns kinders nie, want dis van toepassing op derduisende ouers en kinders.

As ek dink ons kinders het in die tiekiekleine Bedford grootgeword. Een geteerde straat. Een slaghuis. Een dokter. Een apteek. Doerie tyd was daar nie eens ’n koffiewinkel waar ’n mens ’n skon en tee kon kry nie. Voordat die bakkery oopgemaak het, het daar net drie keer per week vars brood gekom. En die dorp het lewe gekry as die Huisgenoot-lorrie opdaag.

Toe ons kinders onderskeidelik in die jaar ná matriek Holland toe vertrek as au pairs, was ek in benouenis. Wat as hulle verdwaal? Sal hulle regkom met trems en treine? Onthou, dit was voor selfone en e-posse. Maar my hoofbrekens was onnodig. En voor ek my oë kon uitvee, was hulle wêreldreisigers wat bedrewe is met valuta, visums, doeane, reisversekering en ’n mag der menigte dinge waarvan ek niks weet nie.

Wanneer hulle kom kuier, vra ek om in hul paspoorte te kyk. Dit trek my soos ’n magneet om te sien waar hulle oral was. Griekeland. België. Frankryk. Duitsland. Italië. Israel. Switserland. Nigerië. New York. Oekraïne. Letland. Dis net waaraan ek nou kan dink. Dan sien ek in my gees hoe ry Nasti in Bedford met haar driewiel boebelteek toe. Hoe bou Rudolph ’n propperse plaas in die sandput onder die jakaranda in ons agterjaart.

In die jaar 2003 is Nasti met vakansie Tunisië toe. Tot in die woestyn gery op ’n kameel se rug, en daar oornag. Terug uit die woestyn SMS sy en sê sy loop die strate van Tunis plat op soek na babapoeier, want dit voel heeltyd of daar sand tussen haar tone is. Toe koop sy ’n blik roospoeier, maar dis nie dieselfde nie.

Daar gaan ek aan’t grens, want ek onthou hoe sy by die Grahamstadfees op ’n kameel wou ry, maar ek het gesê dis te hoog en die kameel staan te vinnig op; sy gaan afval.

’n Tyd daarna klop die koerier aan ons voordeur hier in die Baai. Ek verwag geen aflewering nie. Dis die mooiste rooi-en-blou matjie, so groot soos ’n skinkbord. Met ’n briefie in die mat. Hallo, my ouers. Uiteindelik, julle present wat ek in Tunisië gekoop het. Ek het dit by die grootste mark in Noord-Afrika gekoop, in Nabeul, naby Hammamet. Dis nie mooi nie. Julle kan hom in die Wendyhuis sit. Maar ek het aan julle gedink. Ma moenie die fraiings gelyksny nie, want ek het dit met my eie hande van ’n rol afgesny met ’n stomp mes. Liefde, Nasti.

Tot vandag hang die mat teen die trapmuur. Wanneer ek daarna kyk, verlang ek na die jare van driewiele en sandputplase. Want tóé kon ek hulle teen my vasdruk. Nou, helaas, is hulle soos die FAK-lied sê: “Ver in die wêreld, Kittie …”

Voetstoots

Подняться наверх