Читать книгу Voetstoots - Annelie Botes - Страница 34

27. Die geheime van koninklike binnekamers
22 Mei 2018

Оглавление

Saterdag het ek wortelgeskiet op my bed. Terwyl ek kraletjies inryg vir ons Acqua-VLV se Krismismark-in-Julie, het ek begoëld na die koninklike troue gekyk.

Elegante uitrustings, morning suits. Ontwerpershoede wat ek nie weet hoe dit vasgespeld is nie, want as ék so ’n hoed moes dra, sou dit lankal straataf gerol het. Geskeerde grasperke, perfek gesnoeide struike. Dakhoogte-rangskikkings van wit rose. Juigende skares en waaiende vlae. Koetse en blinkswart perde. Die onverstoorbare koninklike protokol. Gedoriewaar, om by Windsorkasteel te werk, moet ’n mens seker dikke boeke uit den hoofde leer en honderd persent vir al jou paleiseksamens kry.

Ek het op die internet gaan kyk na die binnekant van die kasteel. Hoe ’n mens in daardie prag en praal spelende kinders kan grootmaak, gaan my verstand te bowe. Maar van alles en alles was ek die meeste gemesmeraais deur die koningin en prins Philip. Vir ’n man van ses-en-neëntig wat ’n heupoperasie ondergaan het, is hy nog so regop soos ’n laaistok. Op twee-en-neëntig is die koningin nie meer so meerkatregop nie, maar sy stap nog flink en sonder ondersteuning.

Koninklik ofte nie, daardie twee mense is deur skuimende driwwe met die stormwinde wat hul kinders opgewaai het. Hulle moes ongetwyfeld menige nag in hul koninklike kooiens rondgerol en met die gestyselde lakengoed gestoei het. Om ses-en-sestig jaar aaneen die koninklike fort te hou, moet emosioneel uiters veeleisend wees. Om in daardie ses-en-sestig jaar geen skandes in hul persoonlike joernaal te skryf nie, is merkwaardig.

Nou is hulle by die tyd van die Prediker. Wanneer die amandelboom in bloei staan en die malers ophou maal. Wanneer die mens opstaan as die voëls begin sing, al hoor hy geen geluid meer nie. En die onafwendbare oomblik wanneer die silwerdraad afbreek.

Tog is hulle net mense, soos ons. Ek wonder waaroor praat hulle voor hulle die bedliggie afknip. Krap hy haar rug waar sy nie kan bykom nie? Vergeet hulle soms om voor slaaptyd tande te borsel? Vertel hulle hul nagdrome vir mekaar? Kyk hulle met ’n meewarige glimlaggie na WhatsApp-foto’s van die kleinkinders? Help sy hom om sy wintersvoete in te vryf met iets soos samboksalf? Lê hulle lepel en luister na mekaar se asemhaling in sneeunagte? Voel hulle soms nutteloos en rigtingloos, soos die sprinkaan wat homself moeisaam voortsleep?

Ons sal nooit weet wat in hul binnekamers aangaan nie. My vermoede is dat hul binnekamers maar net soos ons almal s’n daar uitsien.

By nommer 22 is ek en die gryse koning en koningin. Met dié verskil dat ons minder hoofbrekens as hulle het. As iemand aanbied dat ons met hulle kan plekke ruil, sal ek dit van die hand wys. Leonardo da Vinci het gesê: “Simplicity is the ultimate sophistication.”

Voetstoots

Подняться наверх