Читать книгу Voetstoots - Annelie Botes - Страница 35

28. Sout wat laf geword het, is onbruikbaar
26 April 2019

Оглавление

Wanneer ek saans nuus kyk en nogeens moet vasstaar in ’n protesoptog, sit ek sommer die televisie af. Dis ’n konsert waarvoor ek hartlik gatvol is.

Kom ek haak ver aan. In 1997 bevind ons Rudolph-kind hom in Nederland as oppasser van die vierjarige Alexander Hartoog. Die ma is ’n mediese dokter; die pa ’n onderwyser. Geleerde Europeërs. Alexander is bedorwe, want vanweë ’n boggelrug mog die ma nie kinders hê nie. Dié enetjie is klaar ’n wonderwerk.

Op ouderdom vier beproef alle kinders die grense van toelaatbaarheid. Hulle toets gesagstrukture. Kry hulle nie hul sin nie, skop hulle ’n palawer op. Dís wanneer die boompie gebuig moet word, of gelos word om skeef te groei. Só is Alexander ’n klein jukskeitjie met ’n groot kop. Dit kos ons seunskind bontstaan om sy ysere wil te buig.

Een van sy truuks is om na aandete op die tafel te klim en met die soutpot te speel. Strooi sout oor alles. Sy ouers dink dis seer skattig. Maar boerekinders word nie toegelaat om hande-viervoet op ’n tafel te staan en sout te strooi nie. By die Sondagskool en huis word hulle geleer van sout wat laf geword het.

Die aandritueel begin ons seunskind grondelooslik irriteer. Vermoedelik was sy groot irritasie dat die ouers nie intree nie. Derhalwe vat hy die soupot af en verbied die jukskeitjie om daarmee te speel. Luide konsert wat afspeel. Alexander trommel met sy vuiste op die tafel en skreeu soos ’n pou: “Ik ben nu erg boos!”

Die ma sê Rudolph moet die soutpot teruggee, maar die boerekind weier.

’n Week later is die aanddrama verby en die jukskeitjie raak kalm.

Ek praat onder korreksie, maar Sigmund Freud het gesê ’n baba word almagtig gebore. Met elke knies en kweel spring algar om hom tevrede te stel. Onwetend trek hý die toutjies. Gaandeweg kom blok gesagstrukture sy pad. Ouers. Oupa. Ouma. Kinderkranstannie. Kleuterskooljuffrou.

Elke keer as hy met sy vuiste op die tafel trommel en uitskrou hoe boos hy is, trek iemand die briek op. Hy leer dis seer om teen ’n muur vas te storm. Freud sê dit is die grootste onbewuste ontnugtering in elke mens se lewe, daardie wete dat hy nie almagtig is nie.

Met elke protesoptog wat ontaard in vandalisme wonder ek wie gaan die soutpot afneem. As protes die enigste spreekbuis is, is dit klaers se goeie reg. Daar is egter maniere én maniere.

Nou sluit ek maar af met ’n Nederlandse kinderrympie. Ben je boos? / Pluk een roos! / Zet hem op je hoed! / Dan is het morgen weer goed.

Voetstoots

Подняться наверх