Читать книгу Voetstoots - Annelie Botes - Страница 33

26. Waters wat die meule kon laat maal het
20 Desember 2016

Оглавление

Suid-Afrika staan op die vooraand van vele kruispaaie. Ons leiers moet besin oor die rigting waarheen daar geswaai moet word om rampspoed af te weer. Maar daar is een heersende ramp waaroor geen mens beheer het nie, en dis die wurgende droogte waarin ons vasgevang is. Dis ’n natuurramp van onmeetlike afmetings.

As ’n mens aan natuurrampe dink, is die beelde wat normaalweg deur jou glip dié van vloede, vuurspuwende berge en ysstortings wat dorpies tot by die kerktoring begrawe. Tsoenami’s en aardbewings wat stede verwoes. Vlamtonge wat landstreke tot op die barre grond afbrand. Hierdie soort rampe word binne ure hoofopskrifte en mense snak by die aanskoue van die krag van die natuur.

Normaalweg dink ons nie aan ’n knelterende droogte as ’n onmiddellike krisis nie. Almal sê en sê en sê net dis droog; hulle wens dit wil reën. Mor oor tuine wat verdor. Oor die hoë waterboetes. ’n Droogte is nie ’n natuurramp wat ineens toeslaan nie. Dit kom gaandeweg en gee die mens tyd om gewoond te raak daaraan en aanpassings te maak.

Solank hy sy inkomste kry sodat hy vir duur vleis en kosprodukte kan betaal, staan die gemiddelde mens effe afsydig van ’n droogte. Dis nie dat dit hom geensins aanraak nie; dit bedreig net nie sy onmiddellike bestaan nie.

As ek my in die velskoene van ’n boer probeer staanmaak, verskuif my gevoelens. Wat sou ék doen as ek nie geld het vir veevoer nie, en ek my diere hoor bulk en blêr van dors? Watse nagrus het ’n boer as hy besef die sandglasie loop leeg, en die flets lug bly wolkloos? Wat sê hy vir sy vrou en kinders oor die pad vorentoe? Hóé styf moet hy sy hoed teen sy bors vasdruk as hy by die koöperasie instap, wetende sy krediet is opgebruik?

Dan wonder ek watter planne maak die vaders van die stad Ica in Peru waar dit jaarliks sowat twee millimeter reën. Dis ’n woestynstad met ’n kwartmiljoen inwoners waar miljoene liters water daagliks gebruik word, en daar heers al eeue lank ondenkbare droogte. Temperature in Februarie is gemiddeld twee-en-dertig grade.

Nietemin het die area ’n verbouing van katoen, druiwe, olywe, aspersies en avokado’s. Volgens die internet kry die stad en omliggende boere water uit ’n kanaal wat gevoed word deur smeltende gletsers.

Suid-Afrika het nie gletsers nie. Maar ons het talle riviere en fonteine. En báie meer as twee millimeter reën per jaar. As tien persent van die geld wat met korrupsie verkwis is gebruik kon word om die water wat ons wél het op te gaar en te bestuur, dink hoeveel kanale en damme daarmee gebou kon word. En hoe dit kon verhoed het dat menige platgeslane boer sy plaashek vir oulaas toetrek.

Helaas, met die waters wat verby is, sal die meule nooit weer maal nie.

Voetstoots

Подняться наверх