Читать книгу Voetstoots - Annelie Botes - Страница 21
14. ’n Jas vir die winter
14 Julie 2008
ОглавлениеSoggens as ek bed opmaak in hierdie vriesende wintersdae, dink ek aan huisloses wat nag vir nag in ’n hoek op platgedrukte kartonbokse slaap. Dit moet hel wees om ewig koud te kry, selfs in jou slaap. Vir ’n paar maande van ons getroude lewe, daar in Uniondale se geelgerypte Karoonagte, het ek ook koud geslaap.
Ek onthou die eerste beddegoeters wat ek en die gryse besit het. Enkelbedgoed, vir ’n dubbelbed. Twee somerlakens, een kussing en sloop, een kombers, tosseldeken. Afkomstig uit my matriekjaar toe ek koshuis toe is ná my ma se dood. Ons was jonk en kaalgat-arm. Die eerste maande het ons in oom Roelf se skakelhuisie met die groen olieverfmure agter die Royal Hotel gebly. Emmertoilet in die agterjaart. Was dit nie vir die ysterkatel wat oom Roelf nie by die kamer kon uitkry nie, het die drie van ons op die plankvloer geslaap. Dis nou die gryse, ek en die ongebore kind.
Ek was bollend in die lyf, die gryse is ’n rugbyslot. Ons moet onder enkelbedgoed slaap, én warm bly. Halfpad deur die nag maak ek hom wakker. Hy is toegewikkel in ál die beddegoed.
“Janna, ek vrek van koue,” bibber ek.
Geduldig maak hy die beddegoed reg; pak ’n laag koerantpapier tussen die kombers en tosseldeken. Dis ’n krakerige slaap, maar immers warmer. Voordag lê ek weer oop, en die bondel wat hý is, is ’n warboel van kombers-laken-koerantpapier. Ons enigste kussing is onder sý kop. Uit nood gooi hy sy vlootjas, genaamd Luise, oor my. Ek mor omdat ek glo daar kruip goed in die jas rond. Maar opstaantyd vermurwe my hart as hy die enemmel-piepot in die emmertoilet gaan leegmaak en die ring teen sy maag warm maak voor ek daarop moet sit.
Kort voor lank het hy gekwalifiseer as tegnikus en ons kon in ’n munisipale huis intrek. En Luise hang vergete aan ’n spyker in die waenhuis. Toe ons Rudolph-kind die Februarie gebore is, het hy in die gryse se vloottrommel geslaap op twee sponskussings wat ek by tannie Dalene Matthee geleen het.
Neëntien jaar later is Rudolph Engeland toe. Hy het Luise in die son uitgevars en saamgeneem. Toe hy na twee jaar terugkom, was Luise weg. Iewers agter ’n deur in Engeland opgehang en daar in die land van misreën en grys wolke vergeet.
Vir my was dit soos die dood van nabyfamilie. Nie oor die ou vlootjas as sodanig nie, maar ’n beleweniswêreld vol erfenisse. Winternagte op die hangmatkatel, toegedek met koerante. ’n Tyd toe ons ’n kussing moes deel; toe die gryse ná werk die langbeenspinnekoppe in die kleinhuisie afgestof en met sy kromsteelpyp op die nabankwal voor die oop deur gesit het om wag te hou ingeval daar ’n pofadder inseil. Nou nog, as ek my oë toemaak, ruik ek die geur van Rum & Maple-tabak wat by die kleinhuisie se lamlendige houtdeur inwaai.
Waar is twee-en-dertig jaar heen? Is dit waaragtig só dat ons naby aftrede is? Gaan daar ’n dag kom dat ons rolstoelgebonde op die ouetehuisstoep sit?
Tot vandag is linnegoedwinkels my achilleshiel. En in North Riding nommer 22 slaap ons nie onder duvets nie, maar onder behoorlike lakens en diksagte komberse, soos in my ma se huis.
Soms wonder ek waar swerf Luise. Wie het hom geërf? Hou hy iemand warm in die winters van Engeland? Wie hom ook al besit, ek hoop daardie mens pas hom mooi op. Want al sal hy dit nooit weet nie, besit hy ’n kleinood uit óns huis.