Читать книгу Voetstoots - Annelie Botes - Страница 14
8. Klein arende kry wel eendag sterk vlerke
3 April 2018
ОглавлениеAs ’n mens nadink oor jou kinders se kleinjare, slaan jy jou hand oor jou mond dat hulle nie langs die pad lelike letsels opgedoen het nie. Want in jou jonkheid maak jy kinders groot sonder liksens of wysheid.
Nasti het die week voor Pase vakansie gehou in ’n houthuis by Aviemore in Skotland. Bergstrome, sneeulandskap, swart wintertakke. Só kon sy die voorreg smaak om met die Jacobite-stoomtrein oor die boogbrug oor die Finnanrivier te ry. Dis die brug in die Harry Potter-films. Sy is met die tandratspoor (funicular) teen CairnGorm-berg af. En kon naby genoeg aan Edinburg-kasteel kom om ’n duidelike foto te neem.
Maar dit was deels ’n werksweek. Sy moes meesterklasse aanbied in die maak van Napolitaanse pizzas by die grandiose vyfsterhotel op die gronde van die Gleneagles-gholfbaan. Dis waar die Ryder Cup- en Johnnie Walker-kampioenskapwedstryd gespeel word. Om vir Saterdagvermaak daar te speel, móét jy ’n nulvoorgee hê. Om genooi te word om pizzameesterklasse dáár aan te bied, sit nie in Jan Alleman se skirtvoue nie.
Op sestig tjank ’n ma maklik, en toe tjank ek al weer. Oor my dogtertjie wat op ’n Januarieoggend in 1980 in die Uniondale-hospitaal gebore is. Ek sien hoe sy met haar driewiel biblioteek toe ry in Bedford, opgetof in ’n strooihoed en Tinkerbell-sonbril. Of poskantoor toe om haar Daan Retief-storieboekpakkie te kry.
Ek onthou die oggend, sy was drie jaar oud, toe haar pa haar op ’n riempiestoel voor die stoof vang, besig om eier ná eier in ’n olielose pan oop te breek. Toe hy sy arms in die lug gooi en vra wat máák sy, antwoord sy astrant: “Ek maak ’n omelet, ’n dikke.”
Ek sien hoe sy as laerskoolkind pizzadeeg maak. Gooi die bestanddele in ’n Sungleam Tupperwarebak, deksel opsit, skud-skud-skud. Sprei die deeg oop in my oorlede moeder se Aga-oondplaat en smeer met tamatiesmoor. Pak toe met mossels, tuna, salotuie, krapstokkies, pynappelstukkies, groenrissies, mozzarellakaas en wat nog.
En ’n skuldgevoel pak my oor die dag toe sy namens my vir ’n skoolfunksie moes poffers bak. Iets loop skeef en die poffers is olierig en ooploperig. Summier ruk ek haar uit haar kamer en skel. “Begin voor. As kos nie rég is nie, dien jy dit nié op nié.”
Kwaai ma, ekke. Toe begin sy dikbek oor en maak ’n perfekte baksel poffers.
Ja, sonder liksens of wysheid pak ons die reis van kinders grootmaak aan. Tog, op ’n geseënde wyse kry menige ouer hul arendjies van die driewieldae af enduit tot by Gleneagles. Sterk gevlerk. Sweefvaardig. En dan tjank ons …