Читать книгу Voetstoots - Annelie Botes - Страница 20

13. Een minuut stilte
16 Junie 2008

Оглавление

Soms staan ek stom oor die sintuiglike waarneming van ’n ma. Kort tevore skryf ek oor pyngoeters wat ek eervol in die Seaview-veld wil begrawe. Dieselfde middag kom die klinies-droewige SMS van my Nasti-dogter uit Engeland. Oor Gertie.

Laat ek beduie wie is Gertie. Dis ’n 1997-Vauxhall Astra, sewendehands, wat sy in 2003 by ’n vertrekkende Suid-Afrikaner gekoop het vir tweehonderd pond. Aanraaklik hoe die boerklôggoed mekaar stut. Voortdurende verwisseling van als wat te swaar is vir die vlieggewig wat mag terugkom vaderland toe. Fietse, jasse, televisiestelle, matrasse.

Só het Gertie my kind se wiele geword. Opgery en der dagen sat, maar met die volharding van ’n Afrikaner-os. Dis nie alle karre wat vir maande sonder remvloeistof kan ry, met die waarskuwingsliggie toegeplak met wondergom nie.

In 2004 toe ek by Granny was, was Gertie my lig en my heil. As sy by die Manorhek inry, spel dit wegkom van die muf asem in die siekekamer, en die tierende landlady. Menige nag is ons met Gertie Tesco toe. Soos Pick n Pay, maar heelnag oop. Dan pak ons in die misreën sakke kos en toiletgoed vir die bedlêende oumens in Gertie se kattebak. Toe die gryse kom kuier, het Nasti gesorg dat Gertie vir ’n paar dae tot ons beskikking is. Kosbaar om saam rond te ry asof die barse landlady nie bestaan nie.

Dit het my gefolter om Gertie stadig te sien wegry Heathrow toe, terwyl die gryse se hand waai en waai totdat ek hom nie meer kon sien nie.

Tog het die dag gekom waarop my sabbatsreis verby was, en Nasti mý met Gertie Heathrow toe geneem het vir my terugtog oor Afrika. Hoe goed herroep ek my woorde toe ons my bagasie uithaal en ek my palm op Gertie se lou agterruit druk. Dankie, Gertie, vir die myle wat jy my gedra het. Dra ons kind nou mooi verder …

Spoedig na my vertrek het Gertie se longe begin ingee. Kort-kort met ons kind gaan staan in die middelnag ná ’n sjefskof van veertien uur.

Einde 2006 het ons kind vir vyf maande onder ons Afrikadak kom rus; gestuur as my waakengel ná die knie-operasie en teaterkiem. In daardie tyd het Gertie by haar broer se blyplek gestaan. Hý het elke skeet uit haar sieklike longe weggery. Glads ’n sleepwa aangehaak en sy trek na ’n nuwe werksplek vierhonderd myl ver aangery.

Op ’n herfsdag in 2007 het ek wéér ons kind met ’n loodhart gegroet by die Baaise lughawe. Here van alle ouers wat kinders moet wegsien die vreemde in, dis swaar. Maar jy kom daaroor, ná baie nagte se dwaal in die winterwind, toegedraai in ’n wit tjalie.

Terug in Engeland koop sy ’n núwe motor. Los Gertie by haar broer wat Gertie se nukke ken. Saam spaar hulle vir Gertie se verpligte jaarlikse padwaardigheidstoets, genaamd die MOT. In Engeland word motors selfs met nét ’n foutiewe brieklig van die pad verwyder. Laas Maandag, sonder dat ek dit weet, is MOT-dag vir Gertie. Middagtyd kom die SMS van Nasti.

Einde van era. Gertie is vandag in die scrapyard begrawe. Sy’t haar MOT sleg gedop. Sou ver oor £1 000 kos om haar weer padwaardig te maak. Ek en Rudolph het ’n minuut stilte gehou en haar tot ruste gelê. Liefde, Nasti XXX

Dis verganklike aardsgoed. Meeste van ons moes al ’n geliefde motor groet. En begrafnishou, of dit in ’n ysterbegraafplaas in Engeland is, of in Seaview se sandveld, is nie maklik nie.

Voetstoots

Подняться наверх