Читать книгу Voetstoots - Annelie Botes - Страница 8

2. Gejaag na wind
20 November 2006

Оглавление

Dikwels vra mense waar kry ek elke week iets om oor te skryf. Ek hoef net my oë oop te hou om genoeg skryflyne te hê tot ek ouer as Metusalag is.

Sondag sit ek op die tuinbank vir my eie kerkhou. Ek hoor die gesprek tussen ’n weerligskietende ouma en die kompleksopsigter, met ’n snotkopseun wat tussenin druk. Hy het glo gesê haar kleinseun hits ander kinders aan tot vandalisme. Hy sê as hy hom wéér vang, gaan hy hom ’n klap gee.

Daar haak die baardlose parmant teenoor die sewentigjarige opsigter af: “Then you’ll get a slap from me!”

Die hoendervleis het oor my lyf geknop. As dit mý kind was, het ek hom op die plek gewetter. Maar sý, inteendeel, het geklink asof sy trots is op sy durf.

In eksamentyd betrap die gryse kinders wat roekeloos met kettierekke skiet. Kom steel wragtig my ingebidde tuinklippies vir koeëls. Só gryp hy die baardlose een agter die nek en gee hom ’n behoorlike berisping. Nie hóé nie, toe staan die ouma op ons stoep; vra vir die gryse wie gee hóm die reg om haar kleinkind aan sy nek te gryp.

“Dieselfde mens wat hom die reg gee om klippe uit ons tuin te steel, en ruite stukkend te gooi.”

Ek dog haar tjank is afgetrap. Maar sy snou: “Jy is kinderagtig!”

Reken, dís nou ’n ouma wat borg teken vir ’n kind se welsyn. Terselfdertyd tjap sy die toekomspapiere waarop sy hom as ’n mislukking in die grootmenslewe onderskryf. As dit binne my mag was, het ek die welsyn onverwyld gebel om die kind te verwyder. Want indirek is haar opvoedingstaktiek mishandeling van ’n laakbare aard.

Dit lei my daar in my tuinkerk na die gelykenis van die toring van Babel, soos opgeteken in Genesis 11.

In daardie Bybeltye het die hele wêreld net een taal gepraat. Toe trek die mense en kom by die vlakte in Sinar. Hulle besluit om self stene te maak en dit hard te bak. En daarmee in hul stad op die vlakte by Sinar, wat netsowel Philippolis of Peddie of Paternoster kon wees, ’n toring te bou waarvan die punt tot in die hemel strek. Maar pleks van duursame messelklei, gebruik hulle asfalt, iets wat soos ’n slymerige teer is.

God het die werke van hul hande bekyk. Hy was gegru. Toe laat Hy die woorde van hul tonge deurmekaar raak, sodat niemand mekaar kon verstaan nie en daar chaos op die vlakte geheers het. Uiteindelik het die vlaktemense opgegee met die bou van hul Babeltoring, en hulle het uiteengespat en is oor die hele aarde versprei.

Soos die Prediker sê: Alles het tot niks gekom; alles was ’n gejaag na wind.

Ons moderne mense kan op die Babelstorie terugkyk en dit belaglik vind dat die vlaktemense so onnosel kon wees om te dink hul stellasie sal bly staan. Tog is ons dag vir dag besig om die Ewigheidswette te tart met “You’ll get a slap from me!”

Voetstoots

Подняться наверх