Читать книгу Voetstoots - Annelie Botes - Страница 12

6. ’n Boomhuis is ’n belangrike vergaderplek
23 Februarie 2015

Оглавление

Die kinders in ons meenthuiskompleks is lief vir auntie Annelie. Vermoedelik sien hulle my nie as ’n regte-egte grootmens nie. Want ek loop in my pajamas in die straatjies en kan nog op my kop staan en ek betaal hulle om slakke te vang in die komplekstuin.

Of dalk is dit omdat ek luister na hul klagtes en jeremiades, en hulle por om aangehoor te word. Gewoonlik is dit oor beuselagtighede soos straatkrieket of boomhuise of ’n geboelie in die speelparkie. Vir húlle is dit nie onbenullig nie.

Omdat die gryse die main spyker van die trustees is, is my oplossing meesal: “Speak to the chairman, or write him a letter to put your case. He’ll take the matter to the next trustee meeting.”

Dan wag ek vir die klop aan die deur, of die klagtebrief wat afgelewer word. Dis kosbaar om te lees of op ’n afstand te luister. Omdat die gryse dikwels te maak het met stoute helsempies, en hy nie meer geoefend is om met jong kinders te werk nie, maan ek hom om te hóór wat hulle sê. Dan moet hy aan hulle terugvoering gee, al is dit ’n terugvoering wat ék fabriseer. Want dit gee hulle vertroue in die regverdigheid van gesagstrukture. Jaag so ’n kind weg en sê hy moet met sy tone gaan speel, en jy sal nooit weet watter skade jy in sy grootmensvertroue saai nie.

Só kom die jonge Nicholas anderdag hier aan, oë oopgesper van ontsteltenis. Hy lek oor sy droë lippe. Met vervlegte vingers kla hy oor die kompleksassistent wat die onderste takke van die boom waarin hulle ’n boomhuis gebou het, afgesaag het. Nou het hulle nie vastrapplek om in hul boomhuis te kom nie. Hoeka het die gryse ’n week vantevore vertel van dié mankoliekige boomhuis wat enige dag kan uitfoeter. En van die boomtakke wat oor die geparkeerde motors se dakke skraap.

“Let’s go and have a look.”

Daar stap hy en Nicholas straatop om die skade te bekyk. Toe hy terugkom, beduie hy die takke moes af omdat dit ’n parkeerplek is. En auntie Annelie, wat so graag Salomo speel, begin pleit vir ’n touleer. Want mankoliekig al dan nie, dis húlle heilige plek.

Nee, sê die gryse, die wet sê dis ’n veiligheidsrisiko. As ’n kind afneuk en sy rugwerwels kraak, is die trustees aanspreeklik, want húlle het die touleer opgehang. Jimmele tog, daar blaas ek stoom af oor wette. Punt my vinger na die gryse en noem hom ’n suutjiespoep. Tog weet ek hy is reg. Maar ek weet ook ’n bondel seunskinders het ’n boomhuis verloor.

Nou het Salomo ’n plan om die touleer op die komende jaarvergadering met ’n meerderheidstem te laat goedkeur. Want op die ou einde ís ’n boomhuis ’n belangrike vergaderplek.

Voetstoots

Подняться наверх