Читать книгу Voetstoots - Annelie Botes - Страница 9
3. Om deur die bril van ’n kind te kyk
28 Junie 2010
ОглавлениеToe ek ’n kind was, het dit só gemaklik gelyk om ’n grootmens te wees. Grootmense het tjekboeke, motorliksense en mag nagmaalwyn drink. Vrouens dra hoëhakskoene en sykouse, en ons kinders moet skool-skool speel met geleerde sykouse en garetolletjies vasgeskroef aan ons ou skoene. Grootmense mag kies watter hoenderstuk hulle wil hê. En ons mag nie ons monde opblaas as ons die benerige vlerkie kry waaraan daar partykeer nog haartjies vassit nie.
Kinders moet maak soos grootmense sê. Al is jy nie vaak nie, moet jy gaan slaap as jou ma so sê. Jy móét kool met gerasperde neut eet, anders kry jy nie tiekiepoeding nie. Nooit as te nimmer mag jy waag om in grootmensgeselskap rond te sit nie, want dan is jy husse met lang ore en jy tel tande. Niks kan jou naarder maak as kasterolie drink nie, maar jou ma sê jy móét, anders gaan jy wurms kry van modderkoekies bak en paaie bou in die sand. Want die werfkatte grou hul gaatjies in die sand.
Uiteindelik het ek toe ’n grootmens geword. Met hoëhakskoene, lipstiek, tjekboek en bestuurslisensie. Eers toe het ek gesien dis soms moeilik om ’n grootmens te wees. Want nou moet jý sorg vir kos, petrol, skoolgeld, kampgeld, klere, medisyne, vakansie. Toe jy ’n kind was, het jy geglo die kerk gee gesangeboeke en Sondagskoolboeke verniet weg. En tannie Mabel de Waal sny jou hare verniet, want sy is jou ma se beste vriendin. Vader Krismis is ’n miljoenêr en die tandmuis sit wraggies ’n halfkroon in jou skoen.
Maar nou sien jy alles kos geld, en voor jy ’n tjek kan uitskryf, moet jy die geld in die bank sit. Voor jy hoëhakskoene en mooimaakgoed koop, sorg jy dat jou kinders alles het wat hulle nodig het. Rakette, handelsmerkklere, skootrekenaar, moderne selfoon. En nog en nog.
Sonder dat jy dit sê, staan jy in vrywillige slaafskap by jou kinders, gebore uit liefde. Soggens is jy eerste uit die bed en in die kombuis om ’n skoolhemp te stryk en pousebroodjies te smeer. Saans as almal lê, maak jy kombuis aan die kant. Jy vat nooit die grootste peer in die vrugtebord nie. As daar net twee frikkadelle in die bak oor is, sê jy jou maag is vol. As jou kinders swaarkry, skraag jy hulle teen jou bors. As jý swaarkry, gaan lamenteer jy in die nag by die visdam waar niemand hoor nie.
Só werk dit nog al die eeue.
Ek wens ek kon net één keer weer ’n kind wees wat weglêneste soek. En saam met my ma op die bed sit en sy gee my Borstol. En weet my pa gaan die plaasbakkie met die trekker deur die vloedrivier trek om ons op ’n Vrydag by die koshuis te kom haal.
En ek wens ek kon vir vandag se kinders ’n grootmensbril opsit, sodat hulle die offers van hul ouers nóú kan raaksien.