Читать книгу Voetstoots - Annelie Botes - Страница 10

4. Die appel val meesal naby die boom
12 September 2011

Оглавление

Op 6 September skryf Jonathan Jansen in Die Burger Oos-Kaap dat Julius Malema bloot sy politieke vaders naboots. “Hoe kritiseer jy ’n seun wat die voorbeeld van die ouer tot die letter volg?” vra hy. Hy eindig: “Dit sou byna te maklik, selfs onregverdig, wees om die kind te straf sonder om ook diegene te straf wat die jongman na politieke volwassenheid gelei het en nou voorgee om deur die resultate verras te wees.”

Wat ’n uitmuntende getuigskrif van die skrywer se onkreukbaarheid. Soos die digter Jan Celliers sê: “Ek hou van ’n man wat sy man kan staan … en ’n wil wat so vas soos ’n klipsteen staan!”

Hier in North Riding is vandalisme aan’t kop uitsteek. Baksteenbrokke word na vensters gegooi. Jong kareebome word gebreek. Posbusse is ingeskop. Dis beslis kinders uit eie bodem. Die trustees kan nie skouers optrek nie, want ’n versekeringseis verg ’n saaknommer van die polisie. Binnekort gaan die vandale hulle bloedneus loop teen die gereg. Dán sal die hel losbars. Ek hoor by voorbaat die verwoede ouers se tirade.

Bedoel jy dis mý kind? Hoe durf jy mý kind impliseer? Ek sal die trustees hof toe vat vir laster!

Die dae is verby toe ’n mens aan ’n ouer se deur kon klop en sake uitpraat. Toe ouers die skade betaal het, en kinders gestraf is om iets te leer uit die bladsye van die lewe. Dis sorgwekkend dat ouers só reageer, want al wat hulle bereik is om die kriminele neigings in hul kinders te sterk. Dis nie ongekend dat kinders lelikhede aanvang nie. Tot in lengte van dae sal kinders die grense toets. Hoe vroeër hulle ontdek waar die grense lê en wat die gevolge is as hulle oortrap, hoe beter is die kans dat hulle grootmense sal word wat opbouend tot die samelewing bydra. Ouers wat kinders op ’n verkeerde basis steun en beskerm, is patetiese ouers. Hulle pleeg kinderverwaarlosing. So seker soos die son elke dag opkom, net so seker sal daardie kinders voortbou op die fondament wat hul ouers vir hulle gelê het.

Anderdag staan ek in Spar. ’n Seuntjie sit in die trollie en skreeu tot hy rooigesig is oor ’n KitKat. Toe sy ma dit nie wil koop nie, klap hy haar. Sy, bejammerenswaardige pateet, vat die KitKat en betaal dit. Hy skeur die papier af, laat val dit op die vloer. Sy stap doodluiters aan asof daar nie pas ’n tragedie voor haar afgespeel het nie. As sy haar kind se belange op die hart dra, sou sy hom die grense daar en dan gewys het. Met ’n wil wat soos ’n klipsteen staan.

As kinders in die hof beland omdat hulle op onwettige wyse handuit ruk, behoort die ouers sáám in die beskuldigdebank te staan. Die hof moet bestek neem van die ouers se aandeel aan ’n kind se dwaalpaaie. Want ’n minderjarige loop net op dwaalpaaie as sy ouers hom toelaat om daar te loop.

Voetstoots

Подняться наверх