Читать книгу Voetstoots - Annelie Botes - Страница 16
10. ’n Kind wat ’n robotmannetjie is, is verlore
15 Maart 2019
ОглавлениеSo vier jaar gelede het ek en die gryse besluit om uiteet as ’n rariteit te beskou. Dit het weinig met geld uit te waai. Dit gaan oor die hoeveelheid kos wat ons op ons oudag op een slag verorber.
Toe ons in die Baai beland het, kon die gryse lag-lag ’n kilogram varkrib opeet. Daarby nog ’n swartpotjie bonesop en ’n roosterkoek as voorgereg. En malvapoeding. Daardie tyd is verby. Lyk my soos ’n mens se nekvelle met die ouderdom rek, só krimp jou maagwande. Want ná ’n uiteetsessie is ons twee dae lank siek, omdat ons ons vergryp en soos horingwurms eet.
Deesdae eet ons kort-kort winkelkos, maar klein porsies. ’n Pasteitjie, ’n samoesa, ’n vegetariese sosatie by die Chinese winkel, ’n bakkie calamari, ’n vlaskyf. Dan blaas ons nie so op nie. En kry nie galkopsere nie.
Hier in die dae voor Paastyd sterf ons van lus vir Ocean Basket se Platter for One. Ons breek die ooreenkoms en laatmiddag sit ons kwylend met die spyskaart. Knap het ons bestel, of ’n bejaarde egpaar met ’n seun van so tien jaar oud kom sit by die tafel langs ons. My vermoede is dat dit ’n oupa en ouma is wat hul kleinseun trakteer.
Maar hy vee hom af aan hulle. Ál sy belangstelling is by die speletjie op sy selfoon. Hy gesels nie met hulle nie; kyk nie na hulle nie. Sy ouma probeer vrugteloos sy aandag by die spyskaart kry, maar sonder opkyk mompel hy: “Soesji.”
Hy is so ingesuig dat sy lyf saambeweeg. Kort-kort ruk sy asem op. Onder die tafel wip sy voete en soms lyk dit of hy briek trap.
Kennelik is die grootouers iesegrimmig, maar hulle sê niks; bekyk die gedoente met stroewe gesigte. Die kind is onbewus dat sy soesji voor hom neergesit word. Toe hy ten laaste die selfoon neersit en die eetstokkies opneem, sien ek hy is geoefen met die stokkies. Dis nie die eerste keer dat sy ouma-hulle sak omdop vir soesji nie. Hy wurm deur die soesji. Sy oupa-hulle is halfpad deur hul panne vis, toe gryp hy die selfoon en die kompetisie begin van voor af.
As oumens wat niks van selfoonspeletjies weet nie, het ek dit versiekend gevind. Wat gaan in daardie jong seun se innertes aan? Klim hy ooit boom of bou ’n sandkasteel? Lees hy? Hoe toegewy is hy aan sy tuiswerk? Gesels hy met sy ma in die kombuis? Hoe werk die kommunikasie in sy ouerhuis? Hoeveel slaap hy, en is dit ’n rustige slaap?
Iewers sal iemand my nou weer uitskel vir ’n antieke koolkop, maar om ’n kind toe te laat om sy lewe te minimaliseer en te verskraal met selfoonspeletjies, kom vir mý neer op kindermishandeling.
Skep grense. Hóú daarby, met deernis en humor. Onthou, dis ’n kind wat eendag ’n grootmens moet wees. Dis nié ’n robotmannetjie nie.