Читать книгу Voetstoots - Annelie Botes - Страница 13
7. Om ’n kind te óórvoer, is mishandeling
27 April 2015
ОглавлениеIn Februarie 2014 berig die MailOnline dat daar in die vorige vyf jaar vier-en-sewentig Britse kinders by ouers weggeneem en in pleegsorg geplaas is omrede van vetsugtigheid. In die artikel word Tam Fry, voorsitter van die Child Growth Foundation, as volg aangehaal: “To be allowed to get so obese at such young ages is quite simply child neglect and abuse.”
Laas maand eet ons by ’n restaurant wat ’n eet-soveel-jy-wil-buffet adverteer. Langs ons is ’n tafel met tien mense, elk logger as die ander. Met log bedoel ek mense wat elkeen op twee stoele hoort te sit. As hulle opstaan om nóg te skep, loop hulle wydsbeen-skommelend.
Langs die tafel staan ’n stootkar waarin ’n dogtertjie van so ’n jaar oud slaap. Toe sy ontwaak en opgetel word, skrik ek. Want sy is klaar ’n olifantjie met donderdye. Sy word van gas na gas aangegee en algar voer haar. Roomys met sjokoladesous, gebraaide visbrokkies, malvalekkers.
Gedagtig dat ’n mens se maag so groot soos jou vuis is, wonder ek waar bêre sy alles. En ek kan nie verhelp om te skat hoe sy op vyftien sal lyk nie. Ekself is ’n halwe olifant, en daar skort niks met my skildklier of hormone nie. Dis van sinneloos instop dat ek so vragskipagtig is.
In my jongmoederjare het ek my koshuiskinders naweke uit skuldgevoel met kos bederf. Vandag besef ek watter sonde ek hulle aangedoen het. Pleks ons ’n vlugbalnet op die grasperk gespan, in plaasdamme geswem of in die Kagaberg geklouter het. Maar toe éét ons. Helaas, die skade is gedoen; die kosverslawing is vasgelê. As ma het ek gefaal.
’n Oorgewig kind ly onmeetlik. Blaas-blaas laaste by die wenpaal. Boomklim is uit. Pas skaars in ’n laerskoolbank. Kyk smagtend na modegiere. Sit pousetyd eenkant en verorber ’n vrag toebroodjies en sjokoladestafies, terwyl die maters rinkink. Ruik voortydig na sweet. Kry tieties as klasmaats nog platbors is. Lelike eendjie wat gekoggel word. Muurblom sonder kêrel of meisie. Altyddeur ’n stryd om nie soos ’n natuurfrats te voel nie.
Die storie dat vet mense gelukkige skepsels is, is ’n masker om hul logheid te verberg. Ek dra ook daardie masker.
As dit maar tot ouers sal daag hoeveel opsetlike skade hulle hul kinders berokken, fisiek en emosioneel, sal daar minder neerslagtige kinders in hierdie doodvreetwêreld wees. Bedoel ek opsetlik? Já. Die opskeppery, snoepiegeld en gemorskos is tog nie per ongeluk nie, of hoe? Om ’n kind vet te voer, of hom toe te laat om homself te óórvoer, is uit en uit mishandeling. Dis so goed of jy sê: Eet jouself dood, Ma traak nie oor jou nie.
Vermoedelik sal daar briesende ouers wees wat my met een swaardhou wil onthoof. Altemit moet hulle eers die swaard laat sak en hulleself afvra: Wag, is dit nie tóg kindermishandeling nie?