Читать книгу Voetstoots - Annelie Botes - Страница 5
Vertrekpunt
ОглавлениеElkeen van ons is aan die voortstap op ’n reis wat by ons geboorte begin het. Meesal het ons net ’n dowwe uitsig op wat voorlê. Soms kies ons dom afdraaipaaie, en die reis word moeisaam. Ander kere neem ons die wolf se kortpad, en betaal swaar aan skoolgeld.
Tog, strykdeur gebeur dit só dat ons by die waters van rus aanland. Tye waarin ons is soos ’n boom wat by waterstrome geplant is, waarvan die blare nie verdroog is nie. En ons dra die regte vrugte in ons geseënde seisoene.
Knap voor ek in 2004 by Granny in Engeland aangekom het, vra Die Burger Oos-Kaap my of ek straks kans sien om weekliks ’n koerantrubriek te skryf. Dit was die vertrekpunt van ’n reis wat ek nooit kon voorsien nie.
Sestien jaar later is ek immerdeur aan die loop op daardie reis, week na week. Nagenoeg agthonderd keer het ek agter my ou bruin lessenaar ingeskuif en na ’n leë skerm gestaar. Soms was ek siek. Doodsmoeg. Oorbesig met ander pligte. Emosioneel in repe. Of pleinweg beneuk.
Maar solank my voete kon loop, wóú ek die wedloop voltooi.
Voetstoots gee ’n blik op een en ’n halwe dekade se gedagtes. Die HAT gee die betekenis van “voetstoots” aan as: Soos dit voor die voete lê, bv. op ’n vendusie / met alle sigbare en onsigbare gebreke / sonder nadere ondersoek.
Dis allesbehalwe ’n foutlose boek. Soms val ons almal oor ons eie voete. Telkens staan ons op, stof ons kniekoppe af, swaai weer die pluksak oor ons skouers. En begin vir die soveelste maal by ’n vars vertrekpunt. Want daar is boorde, swaar met vrugte, wat wag om gepluk te word.
En net óns kan dit pluk.
Bon voyage vir jóú.