Читать книгу Voetstoots - Annelie Botes - Страница 11

5. Tablo’tjies uit ’n verbygegane tyd
24 Oktober 2011

Оглавление

In nommer 22 knetter die vreugdevure. Donderdag het die wegneemvoël ons Nasti-kind uit Engeland op die Baaise lughawe kom neersit. Om vir ’n maand te kom skuil in die één vesting waar niemand haar ’n haarbreedte se onreg sal aandoen nie.

Om te dink toe ek een-en-dertig was, soos sy nou, was sy al in standerd een. Dertien jaar vroeër toe ons Baai toe getrek het, was die gryse ’n hupse ses-en-veertig. Oor dertien jaar sal hy twee-en-sewentig wees. Ek kan nie tot daar dink nie.

Donderdagaand het sy vlugvoos onder die sawwe kombers op haar moeder se bed aan die slaap geraak, met ons Teunsie-kat teen haar heup. Asof sy nooit weg was nie. Ek het ’n kers op die bedkassie aangesteek en vele taferele herroep van my eens kleine meisiekind met die wipstêre en die fonteinponie op haar kop.

So sit ek en sy in die middel 1980’s in dokter McNicol se spreekkamer in Bedford. Nasti is verveeld, want sy het elke tert en pastei in Rooi Rose opgeëet, en elke mens in die tydskrif gedoop.

Toe stap ’n bejaarde tannie in, dubbelgrootte. Sy sit die rusbank kant en wal. Nasti klouter op my skoot en vra of dit ’n neroster is. Altyd die letters omgedraai. Sieterpielie. Kannepoep. Snoei vir sneeu.

“Nee,” fluister ek, “renosters gaan veearts toe.”

Toe vra sy luidkeels: “Wanneer gaan die nerostertannie se nerosterbabatjie kom?”

Kort ná ons in Bedford aangekom het, sy was so drie, nooi die skoolhoof se vrou ons vir tee. Ek onderrig Nasti oor etiket. Moet aan niks vat nie. Moenie nog koek vra nie. Moenie tussenin praat nie. Eet toemond. Moenie jou tee slurp nie. Gebruik jou servet. Sê asseblief en dankie.

Teedrinkdag breek aan. Nasti gedra haar onberispelik, maar sy sit koponderstebo, die koek op die dure Noritake-bordjie onaangeraak.

“Hou jy nie van koek nie?” vra die vrou. “Eet gou-gou jou koek, dan skink tannie jou tee …”

Iets was teenstrydig met die etiketlesse wat ek haar ingedril het. “Ek wag vir my koekvrukkie en my verset …”

Die ghrênde vrou bring ’n vurkie en servet. Klaar geëet, drink Nasti haar tee sonder slurp. In ons huis drink ons nooit ’n koppie dolleeg nie. Maar dis nie hoe die ghrênde vrou maak nie. “Drink al jou teetjies,” dring sy aan, “dan vat tannie jou koppie.”

Nasti kantel die koppie om seker te maak dis net droesempies. “Ek drink nie daai nie,” sê sy in ’n klimmende stem, “want die onderstes is vol hare en naels.”

Vandag nog praat ons van koekvrukkies en versette. En ons drink nie droesempies vol hare en naels nie.

Voetstoots

Подняться наверх