Читать книгу Voetstoots - Annelie Botes - Страница 18
11. ’n Plegtige prosessie
7 Mei 2007
ОглавлениеEk is lief vir ons meentkompleks in North Riding. Onse spitsdakhuisie met die dakvensters is my knusplek waar ek niks méér vra nie as geborgenheid en vrede.
Maar meenthuislewe het ook sy liederlike liddorings. Eergister het ek my weer skaamteloos gedra oor iemand wat wiele in die straat parkeer, sodat ek met ’n gesukkel by my jaart moes inkrink. Gelukkig was die ou gryse naby en kon hy my bek toelak toe hy sien my lippe staan gevaar om te skeur.
Sulke ontsteltenis is sleg vir ’n mens, maar jy mág jou vererg, veral as iemand knaend met die lewenstrollie in jou hakskene vasry. Maar jy moet jou statigheid behou. Nie soos ek wat met windmeularms in die straat jodel nie. Dit herinner my aan die kostelike storie wat een van my predikantvriende uit die Vrystaat per e-pos vertel het.
In die 1970’s besoek hy en sy vrou Nederland. Hul gashere aldaar nooi hulle uit na koningin Beatrix se verjaardag in Veere, ’n suidelike kusdorpie. Hy is opgewonde oor die eksodus, want dis uit die suide dat sy stamboom ontspring het. In Veere aangeland, heers ’n vrolike gees. Die mense is in tradisionele drag; die kinderen eet oranje roomys en swaai oranje vlaggies terwyl hulle wag dat die koningin en prins Claus en die drie jong prinse met ’n helikopter land.
Hulle neem staanplek in by die landingsplek om ’n gawe uitsig op die koningin te hê. Die helikopter land en die prosessie klim uit. Maar dis nie sy alfa en omega om die koningin te sien nie. Té republikeins, reken hy, om te swymel oor ’n koningin. Maar toe sy uitklim, verloor hy sy hart op haar.
Die bloubloeders stap met ’n afgebakende roete stadsaal toe vir die verjaardagbanket, en die koningin het ’n air van grasie rondom haar; soos ’n kaal bors en weerlig, skryf my predikantmater. Sy vang jou oog met ’n dringendheid, al kyk jy nie na haar nie.
Toe hy wel wegkyk, sien hy ’n takhaar-Amsterdammer-anti-monargis onder op die draai waar die koningin aanstons moet verbyloop. Groot plakkaat wat die takhaar omhoog hou: DE KONINGIN ZIJ MOER! Benouderig vra hy vir sy gasheer of die polisie die takhaar sal verwyder om die koningin die verleentheid te spaar.
“Nee,” sê die omie. “Dit is Nederland, hier mag je segge wat je wil.”
Niemand in Suid-Afrika sou in die 1970’s waag om JOHN VORSTER SE MOER omhoog te swaai sonder ernstige gevolge nie, en John Vorster was nie eens ’n queen nie. Selfs toe ’n student P.W. Botha doerie jare in Unisa se Great Hall met ’n tamatie gepot het, het die jongeling nie haar ma-hulle gou weer gesien nie.
Dis tóé dat hy die koningin stip begin dophou. Sy beweeg al nader aan die takhaar. Dônnerdag, hier kom vandag moleste by ’n feestelike verjaardag.
Toe die koningin oorkant die takhaar kom, wink sy hom nader, buig vooroor en sê iets in sy oor. Stap glimlaggend met grasie verder; in volle beheer van haar pose. My predikantmater smeek toe sy gasheer om die betoger te vra wat die koningin hom in die oor gefluister het.
“Sy het gesê,” kom doen die omie verslag, “jouwe ewe ook.”
Hy sê dit was die waardevolste les van sy besoek aan Nederland. Om te sien wat vryheid van spraak is. Om nie bedreig te voel deur die negatiewe opinie van ander nie. Om te kan regop staan as iemand jou moersnaar pluk. En grasieus te antwoord: “Jouwe ewe ook.”
In meenthuislewe sal daar altyd diegene wees wat die ordentlikheid kortkom om ander mense se ruimte te respekteer. Vreet dit maar op, met behoud van jou statigheid.