Читать книгу Voetstoots - Annelie Botes - Страница 7

1. ’n Verpligte vak
23 Oktober 2006

Оглавление

As laerskoolkind het ek my ouers verafgod. Niemand kon blomme rangskik en bak soos my VLV-ma nie. As ek in Spreuke lees van die vrou wat opstaan as dit nag is en kos maak vir haar gesin, het ek gedink Salomo skryf van mý ma. My pa was ’n ryker boer as Job met al sy kamele, trekosse en wingerde. Hy was nie so dom soos Job om tien kinders te hê nie, want ons sou nooit almal agterop die plaasbakkie kon pas nie.

Nieteenstaande hoe lief ek hulle gehad het, was daar ’n opstandige wrewel in my teenoor hulle. Omdat hulle soveel van my verwag het. Sussie moet lof kry vir haar Unisa-klaviereksamen, én die musiekbeker. En die redenaarsbeker. Beste dogterskut in die skool. My ma sê volgende kwartaal sal ek volpunte kry vir my wiskunde, dis jammer van die één woordsom wat ek verkeerd gelees het.

Ekstra sakgeld vir eerste staan. As sy tweede staan, kry sy nie tweede prys nie.

Later het ek geglo ek word net liefgehê oor wen. Vyf-en-neëntig persent is nie wén nie. As ek lof vir my klaviereksamen met een punt mis, was dit sterftyd in die kolekamer by die koshuis. Here van die gehoorsame en ongehoorsame Israeliete, hoe kón ek die C# in B majeur laat glip?

Uitgewande hawer. Net dienlik om ’n strooimatras mee te stop.

Vandag is ek ’n grootmens wat steeds aan die wensindroom ly. Kap ek ’n koppie teen die kraan, of gooi te veel sout in die groenbone, sê ek heeldag ekskuus vir die gryse.

Groot foute smyt my op die aarde neer. Soos toe Broodsonde in Rapport getrap is soos druiwekorrels in ’n parskuip. Want in hul góédbedoelendheid het my pa en ma my nooit geleer hoe om te verloor nie.

Hulle had min foute, maar dít was een.

My borswering sou meer spiesbestand wees as ek in my jong jare kon inneem wat R.W. Trine sê: “It is the hour of trial that makes a man great. Not the hour of triumph.”

Die dag toe ek ons Rudolph-kind by Gill-Kollege aflaai vir sy hoërskooljare, het ek heelpad van Bedford af gepreek. Oor kanse, voorregte, besdoenery. Hy het kromskouers gesit en seker vol beswaardheid gesien hoe inspekteer ek sy kanse op Victor Ludorum. Maar toe ons daar verby Uitkeer ry, het ek my teksvers uitgehaal.

“Laat Ma net uitvind jy het veel meer as sestig persent vir enige toets gekry, dan’s die hel los.” Die padkaart het uit sy hande gegly. “Want dan’t jy slapgelê by midnight feasts en CSV en meisietjinners. Jy moet léér, Bokka, maar moet jou nie uit jou gesondheid uit leer nie.”

Sy gesig het gestraal.

“Maar daar is één vak waarin Ma wil hê jy moet 100% kry.” Hy het die padkaart opgetel. Sy straling was weg. “Integriteit. Dis ’n verpligte vak, my kind. Jy moet dit nóóit druip nie. As jy dit druip, soos ons almal soms doen, moet jy alles laat staan en hersiening doen, hereksamen skryf. Want sonder dáárdie vak, Bokka, gaan jy die eksamen van die lewe dop.” Ek was seker hy sou redelik presteer, dikwels met ’n onsigbare Victor Ludorum wegstap, as hy kon skitter in integriteit.

Vele ouers tel net lofsertifikate, wisselbekers en klasposisies. Later tel dit so bloedmin. Sulke ouers hoort in die peanut gallery. Maak eerder soos wat Jeremia skryf: Ploeg vir julle ’n braakland en moenie in die dorings saai nie.

Broodsonde het toe darem die kortlys van die ATKV-Prosaprys gehaal.

Voetstoots

Подняться наверх