Читать книгу Voetstoots - Annelie Botes - Страница 19

12. Daar rank ’n boontjie voor my deur
26 Mei 2008

Оглавление

As kinders het ons ’n arsenaal van raaisels geken. Soos: Daar groei ’n boontjie voor my deur; sy ranke loop die hele wêreld deur. Die antwoord: ’n Pad. Onlangs het ek weer gesien hoe werk daardie ranke en hoe kom ’n pad by sy eindbestemming.

My Grootfontein-pa was ’n bedrewe bisleyskut. In onse badkamer hang ’n swart-wit portret van hom met sy enorme .303 in sy boerehande. Voor hom op ’n tafel staan ’n rits trofeë uitgestal. Terwyl ek op die troon sit, herroep ek sy vertellings van hoe hy die geweer in die 1950’s tydens ’n boeretoer in Engeland gekoop het. Hy en die eienaar van die geweerwinkel is daarmee na die dorp Bisley in Engeland, waar die geweer getoets is op die wêreld se top-bisleyskietbaan.

Elke keer as ek bad of troonsit, sien ek dit. Wonder dikwels wat gaan eendag daarvan word as ek wegvaar. Ashoop? Gaan iemand dit op ’n vendusie in ’n boks vol snuisterye raakloop, en die onbekende man se portret weggooi en vervang met iets wat vir die koper kosbaar is? My Engeland-kinders sal dit nie in hul huise wil ophang nie. Hulle het oupa Dick nie geken nie, en het geen aanklank met gewere nie. Weet seker nie eens behoorlik wat ís bisleyskiet nie.

Dan raak ek weemoedig. Want niemand wil uit sy raampie gehaal en vervang word nie. Genadiglik is ek dan Oorkant en sal ek nie sien wat gebeur met my Grootfontein-pa se raampie nie. Ek sal nie meer heimwee kry oor kere dat hy in snerpende wind en bloedige son skietbaan ná skietbaan platgestap het om sy droom te koester nie.

Sommer van die os op die jas …

Ons Nasti-dogter is ’n sjef in Engeland, en sal aanstons burgerskap aldaar kry. Iewers aan die begin van die jaar skryf sy om ouerlike advies te vra. Sy wil nie langer onder ’n kombuisbaas werk nie en het begin uitkyk vir ’n bekostigbare spysenierings-besigheid. Maar dat sy nie op skuld wil begin nie. In haar soeke het sy afgekom op die ideale plek, en watse raad het ons vir haar. Moet sy die skuif maak? Vir watter slagysters moet sy uitkyk? Kan Pa help met ’n besigheidsplan en op die internet help soek na Britse regulasies en befondsingsmoontlikhede vir entrepreneurs?

Die gryse lys en stuur die deurslaggewende informasie. Hy is mos ’n Telkom-ringkop wat entrepreneurskapkursusse aanbied. Nie lank nie, kom haar e-pos-antwoord terug. Ek lê in die bad en kyk na al die memoires teen ons badkamermuur toe die gryse met die drukstuk by my kom sit en spog oor hoe oopkop sy meisiekind is. Hy lees.

Pa, die besigheid is naby my huis. Dis ’n eksklusiewe spysenieringsplek by ’n skietklub in die dorp Bisley. Tradisioneel, ietwat militaristies. Dis juis die tradisies en hanteerbare getalle wat dit aanloklik …

Nasti, skryf ek terug, besef jy oupa Dick het in die vroeë 1950’s sy .303 op die skietbaan in Bisley uitgetoets, en ’n middagete uit dáárdie kombuis geëet? Onthou jy die swart-wit portret van hom met sy .303? Kind van Moeder, jy trap op heilige Grootfontein-spore wat jóú oupa byna sestig jaar die verskiet in daar agtergelaat het.

Dieselfde aand antwoord sy. Ma, die klubkaptein gaan in die rekords soek na oupa Dick se naam. Ek wonder of Ma my vroegtydig die portret kan laat erf? Vir my kombuis.

Vir nog ’n geslag sal die portret behoue bly. Op rare wyse het die boontjieranke ver oor die waters gerank, tot in die dorp Bisley.

Hoe graag sou ek dit vir my pa wou wys.

Voetstoots

Подняться наверх