Читать книгу Voetstoots - Annelie Botes - Страница 15
9. Jou kinders se woorde kan jou venynig piets
23 Oktober 2018
ОглавлениеOor die naweek besoek ’n vreemde vrou uit Natal my om ’n stapel boeke wat sy oor die jare gekoop het te laat teken. ’n Stylvolle vrou wat jy deur ’n ring kan trek.
Oor ’n pot tee vertel sy hul dogter en haar gesin het in die wintervakansie Baai toe getrek. Nou is dit die eerste geleentheid waarop hulle as ouers ses weke verlof kan neem om te kom help met allerlei verbouings en gordyngoed wat die kinders wil aanbring. Haar man is ’n geregistreerde bouer; sy ’n naaldwerkster. Net wat nodig is om ’n stywe bedrag te bespaar aan arbeid. En ’n pa en ma sal doodsweerlik nie knoei nie.
“Julle is bevoorreg om naby julle kind te wees vir ondersteuning,” en ek dink aan ons Nasti-kind wat so gely het met die warmwaterstelsel en katdeurtjie en ingeboude kas vir haar badkamer. Kleinighede wat haar pa kán fieks. Maar hy is onhaalbaar ver.
Toe ek opkyk, swem die vrou se oë in trane. Sy kyk af om ’n snesie uit te haal, en die trane spat vlekke op haar handsak. “Ons kinders waardeer dit nie. Ál wat ek en my man hoor, is kritiek. Ons voel al soos indringers …”
Die storie wat ontvou, is ’n alte bekende verhaal. Oor kinders wat hul ouers as klaarblyklike stukke gereedskap aanvaar. Ouers hét mos geld; dis onnodig om noodskuld terug te betaal. Ouers het ’n waenhuis vol tyd om saans na kleinkinders te kyk. Ma kook mos in elk geval vir saans, sy kan vir ons kookkos uitskep om huis toe te neem.
In tye van frustrasie kan ouers maklik die slaansakke van hul kinders word. Want in die naam van die liefde neig Pa en Ma om te swyg en bedekte en openlike beledigings te sluk. Pleks daarvan om ’n dankie aan te gee oor die borde kookkos, word daar geskimp oor die blomkool wat pap gekook is. As Pa en Ma Wildtuin toe gaan en nie hierdie maand ’n geldlas kan maak nie, word hulle met verontwaardiging aangekyk.
Dikwels word beledigings verberg agter ’n glimlag. Pa moet na sy ore laat kyk, want hy is dower as ’n kwartel, dís hoekom hy so hard praat. Ma se klerekas lyk nog dieselfde sedert die Falklands-oorlog van 1982. Pa loop soos iemand wie se een been korter is. Ma is besig om ’n boggel te kry. Vind Pa rêrig genot in F.A. Venter se verouderde boeke? Hoekom bak Ma alewig ’n tjóklitkoek? ’n Mens sal sweer Ma ken g’n ander resep nie. Pa se kar ruik na nat hond en hoort in ’n museum. Nee dankie, ons lees nie Huisgenoot nie.
Veertig jaar gelede sou my geslag nie waag om hardekwas met ouers te wees nie. Maar dit het verander. Dis geensins vreemd dat kinders sinies en uit die hoogte met ouers praat nie. Moontlik het die ouers skuld daaraan, want hulle laat dit toe.
Maar dit neem niks weg van die brandpyn as jou kind jou met die woordkarwats piets nie.