Читать книгу Voetstoots - Annelie Botes - Страница 32

25. Goeie gewoontes kan jou geen skade bring nie
1 November 2016

Оглавление

In die Paastyd van 2003 was ek by ’n outismesimposium in Nederland. Omdat alle beskikbare vlugte vol bespreek was, was ek verplig om reeds ’n week voor Paasnaweek te vlieg, en ek het vir ’n week tuisgegaan by die organiseerder van die simposium, doktor én dokter Rutger-Jan van der Gaag.

Só het ek bedags veel tyd op hande om in die lentestrate van Arnhem rond te wandel. My te verkyk aan die blommeprag in handmandjies en houtvate. En die Hollanders se vensters wat so glansskoon is, met die fraaiste kantgordyne; iets wat hulle tot ’n kuns verhef het. Hulle trek selde, indien ooit, hul gordyne toe. Nêrens het ek diefwering of ’n sekuriteitsheining gesien nie.

Die tuinmure is laag en maklik om oor te klim. Voortuine is ’n feetjieskildery. Blouklokkies, bottergeel affodille, ranonkels, heuningblommetjies, pers viooltjies. Almal wat in die strate stap, kyk in almal se tuine in. Niemand beskou dit as verdag as ’n vreemdeling oor jou tuinmuur leun nie.

In die verbyloop is dit opvallend dat selfs die klein huise ’n boekrak het wat van buite af sigbaar is. Lesers by uitstek, die Hollanders. Soos ons maandeliks in ons begroting ruimte maak vir elektrisiteit en petrol, begroot die Hollanders vir boeke. Elke maand.

By die Van der Gaags was ’n vasgestelde leestyd. Saans na ete sit hulle in die sitkamer, elkeen met ’n boek. Vir ’n uur heers daar stilte. Aan die ontbyttafel bespreek hulle ’n veelsydige rits onderwerpe. Bemagtig, belese, ingelig. Hul algemene kennis is iets om te beny.

Daarbenewens kon ek my vergaap aan hoe die Van der Gaags elke beskikbare ruimte in hul huis aanwend. Pikante hoededose en allerlei kunstig versierde bokse word gestapel, en hulle weet wat in elke boks is. Rakke op plekke waar ek nooit sou droom om rakke op te sit nie. Driehoekkaste wat nuttelose hoekies vul.

Hier by ons waar meenthuislewe alledaags is, en daar gewoonlik ’n tekort aan pakplek en bêreplek is, is dit ’n voorbeeld wat saam met my teruggekom het uit Nederland. Sedertdien is ek ’n kranige stapelaar, en dis indrukwekkend hoeveel ruimte dit skep.

Iets waaraan ek my kon verkyk, is die Nederlandse honde. Rustig lê hulle op die voortrap. Al hang jy oor die tuinmuur om die blomprag te bekyk, storm die honde nie blaffend hek toe nie. Swaai stert, bly om jou te sien. Al wanneer hulle blaf, is as die eienaar tydens staptyd in die park ’n bal of frisbee gooi.

Snags as ek op die tuinbank by ons huis sit met my nagkoffie, hoor ek in die verte ’n lamentasie van maansiek honde. Waar is die eienaars vieruur in die oggend? Hóór hulle dit? Besef hulle die bure slaap langsaan?

Die kombinasie van leesgewoontes, fleurige tuine en kantgordyne, bergingspasie, nie-blaffende honde en die totale afwesigheid van diefwering het my laat besluit die Hollanders het volksgewoontes waarna ek ook smag.

Maar helaas, my voetsole is aan Afrika vasgegroei.

Voetstoots

Подняться наверх