Читать книгу Voetstoots - Annelie Botes - Страница 26
19. Saluut aan ’n fynbeskaafde sokkerskare
23 Junie 2014
ОглавлениеIn Die Burger Oos-Kaap is berig van Japannese toeskouers wat, ná ’n sokkernederlaag teen die Ivoorkus, sakke uitgehaal en hul rommel opgetel het. As dít nie ’n les vir die wye wêreld is nie, dan weet ek nie wát ’n les sal wees nie.
Neem in ag dat daar ’n sokkerkultuur bestaan waar die verloorder-toeskouers neig om stadions te vandaliseer en amok te maak. Met hul optrede het die Japannese bewys dat hulle ’n verfynde nasie is. As ’n mens dink dat hulle teleurgesteld en ietwat woedend moes wees, weet ek nie waar hulle die teenwoordigheid van gees gekry het om so hoflik op te tree nie.
Die berig het dermate my agting afgedwing dat ek op die internet begin rondkrap het oor die Japannese kultuur. Só lees ek Japan is die land ter wêreld wat die meeste deur tsoenami’s getref word. Tog, keer op keer spring die ganse nasie ná ’n tsoenami in en ruim onverpoosd op, ongeag hul verslaentheid. Hulle doen dit nie uit verveeldheid nie, maar uit ’n ingewortelde pligsbesef. Boonop sonder betaling.
Tydens die Tweede Wêreldoorlog toe Hirosjima en Nagasaki elk deur ’n atoombom getref is, is gruwelike verwoesting gesaai. Nagenoeg 200 000 dooies, waarvan die helfte op dag een gesterf het. Dis onmoontlik om ’n beeld te vorm van 100 000 ineense lyke in ’n relatiewe klein gebied. Binne dae het die Japannese met herbouing begin.
Geleë naby die plek waar die bom in Hirosjima geval het, is ’n Peace Memorial Park gebou. In die museum aldaar is onder andere die verbuigde, verskroeide driewiel waarop ’n kleuter gery het toe die bom tref. Vandag is Hirosjima ’n glansryke stad en Japan ’n ekonomiese reus. Japan het géén welsynsisteem nie. Die werkloosheidsyfer oor die laaste sestig jaar is 2,7%. Waar kom ons uit met 25%, en steeds stygend?
Tydens ’n besoek aan Engeland sit ek met seergeloopte voete op ’n bank in die wandelgange van ’n winkelsentrum vir Nasti en die gryse en wag. Ek bekyk die bonte skare. Van ver af sien ek ’n seuntjie met Oosterse gelaatstrekke aangehardloop kom. Dis opvallend, want normaalweg is ’n Britse skare stil en beheers. Die kind woerts verby; ek kyk hom agterna. Hy hardloop reguit na ’n vullishouer en gooi iets weg; vat die pad terug na waar sy ouers wag. Toe hy by hulle aansluit, klop die pa hom op die skouer en vryf sy swart hare. Dié gebaar van ontsag het diep in my ingekerf.
Dus verbaas dit my nie dat Japannese sokkertoeskouers gewapen met rommelsakke by ’n wedstryd opdaag nie. Hopelik kom ons oor ’n eeu ook daar.