Читать книгу Voetstoots - Annelie Botes - Страница 25

18. By gebrek aan ’n eier om te bak vir brekfis
16 Desember 2013

Оглавление

Voorverlede week se Vrydagaand eet ons by vriende. Hul werkende dogter van ietsie in die twintig kuier ook daar vir die aand. Heelaand bekyk ek met ’n mengsel van jaloesie en nostalgie die hegtheid tussen ma en dogter. Hulle help mekaar in die kombuis. Elke dan en wan raak hulle aan mekaar in die verbyskuur. By die braaivleisvuur kan ek aan hul prate hoor hulle weet omtrent alles van mekaar se lewens.

Dis ’n voorreg wat ek en die gryse nie ken nie, want ons kinders kap al jare der jare ’n lewe uit in Engeland, duisende myle ver. Ons sien hulle hoogstens een keer per jaar. Alhoewel ons deur die jaar gereeld elektronies gesels, is dit met elke huistoekomslag asof ons mekaar se fisieke nabyheid van nuuts af moet gewoond raak.

Toe die dogter aanstaltes maak om huis te kry, vra sy vir haar ma of sy net één eier kan kry vir brekfis. Asof dit alledaags is, beduie die ma na die yskas en sê sy moet van die gebakte sponskluitjies ook vat. Die dogter sit haar brekfiseier in ’n plastiekbakkie. ’n Ander bakkie met huispoeding.

“Ek bring Ma se bakkies môreaand terug,” sê sy.

Toe tref ’n weemoed my. Hoekom kan ek nie ook vir my dogter ’n eier saamgee huis toe nie? Of haar strykgoed doen nie? Hoekom ken ons mekaar se inne en uite net op Skype? Toe ons huis toe ry, kry ek die eier nie weg uit my kop nie.

Ek onthou in Bedford toe ons in die stadsaal by die belastingbetalersvereniging se vergadering tee gedrink het. Daardie aand vertel mister Gardner-Hill, ’n Britse Engelsman, hoe dit gekom het dat hy en sy vrou Engeland vir Suid-Afrika verruil het.

Glo het hulle ná die Tweede Wêreldoorlog met ’n koskoepon in ’n tou gestaan. Byna alles was beperk, want dit was die dun jare van kosskaarste. So bepaal die koepon dat elkeen slegs een eier per week kan kry. Bloot omdat eiers bloedskaars is. En hulle is tog so erg oor ’n brekfiseier. Net daar in die tou besluit hulle om Suid-Afrika toe te emigreer. Want in Suid-Afrika is geen beperking op eiers nie en hulle kan elke oggend elkeen twéé eiers eet.

Kort daarna klim hulle op die skip.

Toe kan hulle elke oggend soveel eiers eet as waarvoor hulle lus het.

Min het ek daardie aand besef hoe mister Gardner-Hill se storie oor ’n eier dekades later na my sou terugkom. Hoe ek elke ma sou beny wat die voorreg het om te hoor: Ek bring Ma se bakkies môre terug.

Tog wil ek nie hê ons kinders moet terugkom nie. Want ek weet hulle slaap sonder diefwering of alarms. Môreoggend stap hulle in ’n beroep in wat aan hulle toegeken is alleenlik op grond van hul vaardighede.

Die Here gee. Die Here neem.

Voetstoots

Подняться наверх