Читать книгу Voetstoots - Annelie Botes - Страница 28

21. Voeding is die petrol waarop ’n mens loop
25 Mei 2015

Оглавление

In die herfstyd het ek geskryf oor die onreg wat ouers hul kinders aandoen met ’n oorvoerdery en deur ’n blinde oog te gooi vir vetsug. Lanklaas dat ek soveel goeie terugvoer van die publiek gekry het.

’n Afgetrede skoolhoof van Sunridgepark in die Baai skryf hy was bevoorreg om tydens sy onderwysloopbaan aan Swede en Finland besoek te bring. Finland word beskou as die wêreld se nommereenland as dit kom by onderwys. Op ’n dag sit hy in Helsinki in ’n skoolhoof se kantoor, en hy wil by die hoof hoor wát in die Finse onderwysstelsel maak van hulle nommer een. Hy sê sy ore het toegeklap toe die skoolhoof antwoord: Kos.

Die wet bepaal dat Finse skole daagliks ’n gebalanseerde maaltyd aan alle kinders moet voorsit. Elke skool het ’n milk dispenser wat gratis tot kinders se beskikking is. ’n Skoolsnoepie is niks groter nie as ’n Suid-Afrikaanse huis se badkamer, en ál wat verkoop word is tee en vrugte. In vele stede, soos Göteborg, bestaan nie skoolsnoepies nie.

Tuis kry kinders byna nooit lekkers, sjokolade, tjips en gaskoeldrank nie. Dis luukses wat by uitsonderlike geleenthede vergun word. Ouers aanvaar dit as ’n morele plig om verstandig om te gaan met dít wat hul kinders as voeding inkry. Dis in hul kultuur ingewortel dat opbouende voeding die basis van kinders se prestasies, gesondheid en welsyn is.

In Helsinki word kinders toegelaat om in Goth-klere skool toe te gaan, kompleet met swart grimering en pikswart gekleurde hare. Hulle mag selfs rook, solank dit buite die skoolhek is. Maar hulle sien dit as ’n voorreg wat nooit misbruik mag word nie, en anders as wat ’n mens sou verwag, is hulle pynlik gedissiplineerd en agtend.

Uit ervaring weet ek snoepies by Britse skole verkoop gesondheidskos teen lae pryse. As iemand gemorskos wil koop, betáál hy. Gesinne wat as vetsugtig geïdentifiseer word, kry opleiding en onderskraging om die situasie te monitor. Van staatskant af kry hulle yslike afslagkoepons vir gesondheidskosse.

Terwyl ek in 2004 by Granny was, was daar ’n daaglikse televisieprogram onder leiding van Jamie Oliver. Dit laat ’n mens kopskud as jy sien hoeveel moeite die staat doen om vetsug te bekamp.

Die skoolhoof van Sunridgepark sluit sy e-pos af met iets wat my tot my laaste dag op aarde sal fassineer. In die munisipale gebied van Helsinki mag geen inwoner buite loopafstand van ’n biblioteek bly nie. Dit beteken as ’n woongebied uitbrei, móét die munisipaliteit ’n biblioteekplan voorsien alvorens boupermissie gegee word.

Pleks die leiers ophou kerjakker, en biblioteke in plakkerskampe bou.

Voetstoots

Подняться наверх