Читать книгу Voetstoots - Annelie Botes - Страница 24

17. Die tekort aan agting vir onderwysers
16 September 2013

Оглавление

Soms sê iemand ’n terloopse iets wat ’n mens soos ’n tienpondhamer tref en jy weet dis woorde wat tot in lengte van dae in jou sal vassit. Iets wat jou opinie permanent swaai en jou met ander oë na ’n aspek van die wêreld laat kyk.

Met die skoolhoofdesimposium wat begin September in die Baai gehou is, maak ’n skoolhoof van Carletonville ’n afspraak om een aand by ons te kom kuier. Jan Malan. Hy daag op met ’n bos lenteblomme, ’n grote boks Ferrero Rocher-sjokolade en kolwyntjies met toffie-en-pepermentvulsel.

Oor ’n paar koppies koffie gesels ons tien honde uit vyftien bosse. Want ek hang graag aan die lippe van ’n ingeligte, belese en berese mens. Uiteraard neig die gesprek terug onderwys toe.

Wat op aarde gaan aan? peper ek die man. Waarheen vorentoe? Waar het die deurstamp gekom? Watter werkbare oplossings is daar? Van alles wat ons gesels het, het sy storie oor Taiwan die hoendervleis op my laat uitslaan, sodat ek sommer die ketel weer aangesit het.

Hy vertel dat sy seun Engels onderrig in Taiwan. En hy en sy vrou besluit om te gaan kuier en te kyk hoe lyk hul kind se wêreld daar in die vreemde. Die seun deel ’n woonstel met ’n vriend in ’n kompleks. Daar is net twee slaapkamers en die seun staan sy kamer aan sy pa-hulle af en neem sy intrek in die sitkamer op ’n opblaasmatras.

Op die oggend van die derde dag is daar ’n boodskapper by die deur wat sê die woonstelopsigter wil die seun dringend spreek. Terwyl die seun angsvallig die opsigter te woord gaan staan en hom regmaak vir ’n skrobbering, sê Jan Malan vir sy vrou hulle moet hul lywe reghou om na ’n hotel toe te skuif. Taiwannese is verfynde mense en ’n plakkery sal nie verdra word nie. Hulle kan maar solank hul soetkyste pak.

Maar die seun kom terug met ’n glimlag. “Alles is reg,” sê hy. “Die opsigter het nederig gesê in Taiwan bestaan daar hoë waardering vir ’n onderwyser; géén onderwyser slaap op ’n vloer nie. Hy reël dadelik dat daar ’n bed boontoe gedra word.”

Die gebrek aan respek is ’n groot onderwysprobleem. Hoe goed onthou ek ’n tyd in ons land toe leermeesters as gesagsfigure in die samelewing gereken is. ’n Tyd toe miljoene gellings water in die see moes loop voor ’n onderwyser hof toe gesleep word omdat hy ’n bloedjie se oorlel gedraai het.

Lyk my in Taiwan het tye nie vir leermeesters verander nie.

Voetstoots

Подняться наверх