Читать книгу Voetstoots - Annelie Botes - Страница 27

20. Sê-nou-maar is ’n reis vol dagdromery
13 Oktober 2014

Оглавление

Soos ek ’n paar jaar gelede geskryf het, wil ek soms hê die gryse moet saam speel as ek sê-nou-maar speel. Maar hy sê daar bestaan nie iets soos sê-nou-maar nie. Help nie ek stry nie, want ’n mens kan niemand dwing om saam te speel nie. As ek sê hy is ’n regte ghwar, kry ek vir twintig dae niks uit hom uit nie.

Nou hoop ek daar is andere wat ook van sê-nou-maar hou. Dan kan ons immers saam speel. Met goeters soos: Sê-nou-maar jy kon vir die res van jou lewe nét vyf kossoorte eet, wat sou dit wees? Of net vyf musieksnitte luister? Of vyf flieks oor en oor kyk? By net vyf winkels koop? Vyf kleure kies vir jou ganse klerekas, linnegoed, gordyne, meubels en mure? Vyf kruideniersitems wat nóóit sal opraak nie? As ek die gryse kon inruil vir ’n ander man, watter vyf sal die kortlys haal?

Dan kan ek nogal gallerig raak ook. As ek sout in vyf mense se koffie kon gooi, wie sal dit wees? As ek ’n regter was en ek kon vyf mense tronk toe stuur om van ryswater te leef, wie sal ek vonnis? By watter vyf mense se krae sou ek jeukpoeier ingooi?

Maar een van die genotlikste sê-nou-maars is om uit te werk watter vyf mense ek sal saamneem as ek vir vyf jaar ’n eiland met vyf uitgesoektes moet deel. Ingewikkelde besluit. Want as ’n mens saamgebondel word, al is dit mense wat sterk aanklank vind, steek ons versweë eienskappe nek uit. Gewoonlik kom die geneuktes van onsmaaklike geure en teksture eers uit as ons aan land is en die boot het al ’n week gelede weggevaar.

Vir luigatte sien ek min kans. Ewe min vir spogjakkalse en babbelaars. Los maar die bewendes wat vir alles bang is, van donderweer tot motte, slootwater of ’n kokosneut wat dálk op hul koppe kan val.

Mense van geloof is welkom, net nie dwepers nie. Iets wat die ghries uit my wiele irriteer, is mense wat in oordrewe verkleinwoordjies praat. Oumensies, liefdetjies, medisynetjies, groentetjies, drukkietjie. ’n Grootmens wat ’n ander grootmens sy maatjie noem. Om nie te praat van maaikie nie. My ma het gesê sulke mense probeer andere oortuig van hul engelagtigheid.

Elkeen van die vyf eilandmaaikies moet planmakers en bittereinders wees. ’n Sin vir humor hê. Geen partypolitiek aanhang nie. ’n Raps gefundeerde sielkundekennis hê. Tussen hulle moet daar maaikies wees wat my swaktes kan aanvul. ’n Boomklimmer as die piesangtros hoog sit. ’n Atleet wanneer ’n veldhaas gevang moet word. En iemand met outoriteit wat my kan vasvat en sê: “Hou nou jou groot bek!”

So droom ons elkeen sy eie drome en skep sy eie eilande.

Al bestaan sê-nou-maar nie rêrig nie.

Voetstoots

Подняться наверх