Читать книгу Stukkies van die hemel op aarde - Dirkie Smit - Страница 11

Die Onsienlike en die onsienlike

Оглавление

Geloof stap vrolik vorentoe in die donker, in rustige vertroue op God se beloftes. Só skryf Martin Luther êrens in ’n Kerspreek oor die Wyses uit die ooste.

Van nature wil ons sekerhede hê, bewyse, waarborge, wil ons presies weet en verstaan, en daarom huiwer ons dikwels in onsekerheid en vrees voor die onbekende – voor die dae van môre en oormôre, voor ’n donker nag, voor ’n vreemde toekoms, voor ’n nuwe jaar, ’n nuwe werk, ’n nuwe omgewing, nuwe verhoudinge. Die onbekende bring vir ons onsekerheid en heimlike, selfs openlike vrees, besorgdheid, beklemming in ons hart.

Maar geloof sien die troue Onsienlike en leef vrolik vorentoe ondanks alle donker. Sê Luther vol vertroue en versekerdheid. En hy herinner sy hoorders en lesers aan die wonder van die Bybelse Kersverhaal, hy nooi hulle – en ons – om met oop oë weer te kyk wat daar vertel word.

Die sterrekykers het die huis ingegaan en die Kindjie saam met Maria, sy moeder, gesien – so vertel Matteus 2:11 – en gekniel en aan Hom hulde bewys, ja, hulle reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke uitgehaal: goud, wierook en mirre.

Watter wonderbare woorde! sê Luther.

Want wat het hulle eintlik maar gesien? ’n Arme ma met ’n arm kindjie in ’n armsalige vertrek. Wat kon gesonde verstand anders sien? Die wêreld wat ons ken, sou rondkyk vir fluweelkussings en ’n skare bediendes, sê Luther, want óns wêreld bring mos gawes aan wie reeds genoeg het en gryp daarvoor brood uit die mond van wie nie het nie.

Maar die Wyses sien iets onsienliks. En wie hulle wil volg, moet ook die oë leer sluit vir wat glinster, en leer kyk na wat verag is en as dwaas beskou word – armes leer help, vernederdes leer vertroos, naastes in hulle nood leer bystaan.

En soos altyd loop die kerk van sy dag deur onder Luther se kritiek. Ons moenie so spog met ons kerkgeboue en ons insamelings nie, gooi hy sommer in, want God sê: Wat gee Ek om vir altare en klokke? Wie het julle gevra om kerke te bou? Sit Ek nie gééstelike tempels voor jul oë nie? Dié behoort julle veel eerder te bou en te voed!

Nee, wie Christus wil sien, sê Luther, moet die onsienlike leer sien, in die gesigte vol vrae, vol verlangens en vol vrese rondom ons, in eenvoud en ’n stal. En waar ons Hom die minste verwag sal ons Hom vind, soos die Wyses destyds, vol liefde en trou, ook in die donkerste donker, en die mees onbekende môres – en nagte.

Stukkies van die hemel op aarde

Подняться наверх