Читать книгу Stukkies van die hemel op aarde - Dirkie Smit - Страница 13
Hoop vir gister
ОглавлениеTwee ouerige Engelse vriendinne het glo volgens jare lange gebruik elke Saterdag saam die bus geneem na die nabygeleë buurdorpie om hulle weeklikse inkopies te gaan doen in die groter winkelsentrum daar. Tot een op ’n dag uit die bloute sê: “Ek gaan nooit in my lewe weer in daardie dorp koop nie. Hulle sal my geld nie weer sien nie.” Totaal oorbluf wil die ander een weet wat dan gebeur het? “Hulle het ons aangeval en ons huise afgebrand,” is die verbitterde verduideliking.
Na ’n paar oomblikke van volkome verbystering sê-vra die ander: “Maar dit was tog 950 jaar gelede?”
“Mag wees,” kom die weerwoord, “maar ek het dié week eers daarvan gehoor.”
En so lewe ons, soos William Faulkner sou sê: “Die verlede is nie dood en begrawe nie. Dit is nog nie eens verby nie.”
Die verlede bly met ons, in ons, en laat ons nie vry nie. Wat gebeur het, hou ons gevange met kettings van teleurstelling en verbittering, van verwyt en selfbejammering.
Dit geld vir ons diep persoonlike ervarings, van ons verhoudinge met dié naby ons – ons ouers, kinders, geliefdes, vriende – en ook met ons naastes in die samelewing rondom ons.
Herinnerings aan vergange pyn, onreg en kwaad bly kleef aan ons, word déél van ons, vorm ons gedagtes, vooroordele en standpunte.
Ons gedagtes is soos spookhuise waarin lang vergange herinnerings soos geeste ronddwaal en ons elke keer weer onverwags oorval en verskrik.
Die meeste van ons ken dit so goed en weet hoe waar dit is.
Hoeveel mense gaan nie gebuk onder diepe droefhede wat hulle lewenslank saamdra nie? Hoeveel dra nie wonde van gebroke verhoudinge, littekens van leed en teleurstellings nie? Hoeveel selfverwyte oor mislukkings en verkeerde keuses is nie elke môre weer vars en wrang nie?
Ja, hoeveel onder ons word nie deur ons verledes gemáák, gedefinieer, tot wat en wie ons nou is nie?
En tog is dit so onnodig.
Ons hoef nie so te lewe nie. Ons kán bevry word van dié kettings en dié dwaalgeeste van gister.
Trouens, dis die punt van die evangelie: Dis nooit te laat nie. Vir skuld is daar vergiffenis. Vir leed is daar troos. Vir konflik is daar versoening. Vir gebrokenheid is daar heling. Donker wyk voor lig. Wat agter lê, hoef nooit te bepaal wie ons is en wat ons vorentoe sal wees nie.
Aan die toekoms kan ons min doen, skryf die groot geleerde Ninian Smart, maar wat ons wel kan verander, is die verlede.
Ons kan anders daaroor begin dink. Ons kan dit verwerk, dit nuut leer sien, dit selfs vergeet, agter ons laat, indien nodig. Ons kan ons beelde van onsself en van mekaar anders begin teken; ons rekonstruksies van wat presies gebeur het, wysig. Ons kan alles in ’n ander lig begin sien, en vrede maak – ook met onsself en ons eie lewensloop, en só ’n nuwe toekoms ontvang.
Die strokiesprentkarakter en groot 20ste eeuse denker, Charlie Brown, geskep deur Charles M. Schulz, sê dit selfs nog beter. In diep gesprek met hom sê Linus: “Ek glo dis verkeerd om jou te kwel oor die dag van môre. Ons moet liewer net aan die hede dink.”
“Nooit,” sê Charlie Brown ontstig, “dit sal oorgawe beteken, boedel oorgee, moedverloor, sommer gaan lê. Nee, ek hoop nog altyd dat die verlede beter gaan word.”