Читать книгу Stukkies van die hemel op aarde - Dirkie Smit - Страница 23

Leergierigheid?

Оглавление

Omtrent ’n eeu voor Christus het die Romeinse staatsman Cicero al gesê: “Die doel van opvoeding is om leerlinge te bevry van die tirannie van die hede.”

As ons niks leer nie, bly ons verslaaf, ons lewe lank. As ons maar net weet wat almal weet, maar net kan doen wat elkeen kan, maar net glo wat ander vertel, is ons blywend onderdane, diensknegte van die hede. Die kans dat dinge vir ons gaan verbeter, is dan maar skraal. Die kans dat ons geleenthede sal kan skep, of dié wat oor ons pad kom sal kan aangryp, trouens, selfs sal kan raaksien, is maar gering. Ons hede is ook ons toekoms – en dié hede is al klaar die vrug van ons verlede.

Maar opvoeding kan ons bevry! Kennis is mag, het Francis Bacon dié insig al in die 16de eeu verwoord. Deur kennis te verwerf groei ons, ontdek ons nuwe lewensmoontlikhede, ontwikkel ons nuwe vaardighede, droom ons nuwe drome. Met kennis verander probleme in uitdagings om aan te durf, word ons horison verbreed, begin ons toekoms ook anders lyk.

In die Christelike tradisie het dié oortuigings diep ingesink. Daarom doen die kerk al eeue lank soveel om kennis te dien – meermale, ook vandag nog, juis wanneer niemand anders die verantwoordelikheid aanvaar om dit te doen nie – om mense te leer lees, skole te stig, onderwys, universitêre opleiding, die wetenskap te bevorder. Dit hoort by die bevryding wat die evangelie bring. Die Christelike geloof en tradisie gló daaraan.

Daarom is dit so tragies – ’n mens kan ook sterker woorde oorweeg! – wanneer kinders, jongmense, wie ook al, dié kanse nie waardeer nie. Wanneer hulle nie leer nie, nie opgevoed wíl wees nie, nie hunker na kennis nie, nie eens wil dink nie. Wanneer hulle nooit wonder, nooit eksperimenteer, nooit uitvind, nooit vra en soek nie. En dié tragedie speel hom op talle, talle wyses af, in ons tyd óók – byvoorbeeld wanneer kinders hulle dae sinloos verwyl met ydele vermaak op televisie- en rekenaarskerms.

Die bekende Amerikaner Neil Postman is juis aan ’t nadink oor die bogenoemde woorde van Cicero wanneer hy oor die verwoestende invloed van die elektroniese media en die vermaaklikheidsindustrie op sy samelewing ’n boek skryf, onder die veelseggende titel, [11]Amusing ourselves to death.

Stukkies van die hemel op aarde

Подняться наверх