Читать книгу Stukkies van die hemel op aarde - Dirkie Smit - Страница 32
Berou
ОглавлениеNaberou is galberou, so leer die volksmond. Spyt kom altyd te laat. Gedane sake het geen keer nie. As die koeël eers deur die kerk is, is dit verby.
Net al uit dié talle spreuke blyk dit hoe wyd dié algemene wysheid loop, gegrond op talle mense se ervarings oor baie geslagte en dekades heen, en bittere ervarings daarby, galbitter, soos naberou.
Ja, berou kom altyd te laat, altyd agterna, wanneer sake nie meer herstel kan word nie; wanneer wat gebroke is nie meer geheel kan word nie; wanneer die woorde wat seermaak reeds gesê en gehoor is; wanneer die kloue van verslawing reeds vasgryp.
Berou kan hóé galbitter wees, dit kan nie ongedaan maak wat is nie.
En ons weet dit so goed.
Juis daarom moet ons versigtig wees met wat ons sê en doen. Nie oorhaastig wees nie. Oorhaastigheid is dwaasheid, het die Grieke al geleer. Praktiese wysheid, die froneisis wat hulle wou kweek, was juis die teenoorgestelde van oorhaastigheid, van dwase aktivisme, wat instorm en praat en doen sonder dink.
En ook dít weet die gesonde verstand van die volkswysheid: Besin eer jy begin, hoor ons van kindsbeen af, want haastige hond verbrand sy mond.
Daarom dat Jesus – in ’n merkwaardige Bybelgedeelte (Luk 14:25-32) – sy navolgers waarsku om nie oorhaastig agter Hom aan te kom nie! Hulle moet liewer eers die koste bereken, sê Hy, die implikasies bedink, die eise van die evangelie! Want watter dwaas, vra Hy, sal ’n huis begin sonder om vooraf te bereken of hulle die bouwerk sal kan voltooi? Wie fondamente lê, maar nie die projek kan deursien nie, is ’n bespotting.
Of watter dwase sal in ’n oorlog betrokke raak, vra Jesus, sonder om eers haarfyn te dink wat die gevolge mag wees, die langtermyn-implikasies, ook vir komende geslagte? Sonder om te oorweeg watter onreg, bitterheid en wraak dalk gesaai gaan word? Watter ellende dalk oor mense gebring gaan word, wat vermy kon wees? Watter dwase sal tog so iets aanvang as daar ander weë, ander optredes moontlik is?
Net hulle wat vergeet het van naberou se galberou . . .