Читать книгу Stukkies van die hemel op aarde - Dirkie Smit - Страница 42
Woorde ontbreek ons
ОглавлениеHulle sê dat Eskimo’s glo tot sestig woorde het vir sneeu. Dalk is dit so, dalk nie. Ander vertel weer dat Eskimo’s vele verskillende woorde vir robbe het. Die punt is: Mense ontwikkel tale, woordeskat, vir dié lewensterreine waarmee hulle intiem vertroud is en elke dag leef. Dié ryke woordewêreld help om ons leefwêreld beter te verstaan en daarin tereg te kom. Met ons woorde benoem ons, verken ons, begryp ons, orden ons ons alledaagse lewe.
In Die Burger vertel Maureen Joubert eenkeer in ’n onderhoudende “Van Alle Kante”-rubriek van “die vreemde jargon van begeesterdes”. Mense, skryf sy, ontwikkel ’n eie “speak” om hulle belangstellings te verwoord en te deel met ander wat ook dié “speak” ken. Dink aan die spesifieke terminologie van sportmalles, diereliefhebbers, viertrek-fanatici, hengelaars, bonsai-kwekers, en wat nog meer, sê sy.
Juis daarom, só sê die Katolieke moraalfilosoof Josef Pieper op ’n keer, is dit so veelseggend dat moderne tale so merkwaardig min woorde het om oor deugde en ondeugde te praat, oor goed en kwaad, oor heilsaam en boos. Ons is morele analfabete, sê hy, vergeleke met die antieke tyd en die tradisies waarin ons staan. Dié gebrek aan morele taal vertel eintlik veel meer van ons as wat ons graag erken, sê Pieper. Ons praat so swak, want ons dink so swak. Moderne mense is o so slim, ja, oor alles onder die son, oor allerlei nuwe wêrelde. Dié verstaan ons tot in die aller-detail en ons benoem dit met ’n verstommend komplekse woordeskat. Maar oor eenvoudige morele kwessies stamel en struikel ons, geslaan met die swye van onkunde.
Hier in Suid-Afrika kla ’n lid van die Menseregtekommissie onlangs dat ons nie regtig die kultuur van gewelddadigheid in ons land verstaan nie. Hy vra dat geleerdes ons moet help met antwoorde, met verklarings en oplossings.
Maar watter geleerdes? Wie speak vandag dié speak?
Vra net bietjie in enige geselskap hoe ons dink oor oplossings vir, sê maar, geweld en misdaad. Luister hoe stamel en stotter ons dán. Hoor ons simplistiese slagspreuke, ons oppervlakkige opmerkings, ons patetiese planne.
Woorde ontbreek ons, maar daarmee sáám ook veel meer . . .