Читать книгу Stukkies van die hemel op aarde - Dirkie Smit - Страница 35
’n Slegte raadgewer?
ОглавлениеOns wêreld smag na moraliteit.
Só sê die gevierde denker Hans Kung. En talle leiersfigure – uit die politiek (Mary Robinson, Martti Ahtisaari, kroonprins Hassan), die wetenskap (Carl Friedrich von Weizsacker), die kultuur (Yehudi Menuhin, Elie Wiesel), die godsdiens (Desmond Tutu, George Carey, Ekumeniese Patriarg Bartolomeus 1), en talle meer – stem met hom saam en bepleit ’n etiek-vir-die-wêreld, ’n global ethics. So nie, staan ons almal saam voor geweldige katastrofes, soos wat die angswekkende scenario’s wat hulle skets, op aangrypende wyses aandui.
En as ’n mens rondom jou kyk, sien jy inderdaad oorgenoeg rede vir dié diepe kommer.
Maar nou is angs ’n slegte raadgewer, soos ’n bekende volkswysheid sê. Besluite geneem in oomblikke van paniek blyk dikwels agterna dwaas te wees, selfs tragies. Wie verskrik is, dink nie helder nie, sien nie die groter prent nie, oorweeg nie alle moontlikhede nie. Beangste mense slaan nie ag op die gevolge van hulle oorhaastige besluite nie; hulle dóén eenvoudig, net om te voel hulle doen darem íets. En bitter ondervinding leer hoe verwoestend sulke vreesbevange reaksies kan wees.
Volgens kenners word geweld dikwels gebore uit angsgevoelens. Uit die uitsigloosheid van mense vol lewensangs wat nie kan traak wat hulle breek en vernietig nie. Uit die gevoel van toekomsloosheid by verlore generasies en nasies. “Ons slaan, daarom is ons”, beskryf sosioloë soms dié gevoel. Dis nog net uit dade van blinde geweld teenoor wie ook al voorkom – dikwels die swakkeres – dat sulke uitsiglose, toekomslose mense ’n valse, perverse gevoel van eiewaarde en mag kan put.
Nee, angs gee slegte raad.
Daarom word ons van kleins af geleer om rustig te raak, ook in die allerergste krisisse. Ons word geleer om diep asem te haal en eers te kalmeer voor ons handel. Om eers perspektief en afstand te kry, want met tyd kom raad. Die meeste krisisse is nie so erg soos dit met ons eerste skrik lyk nie. Ja, verstandiger reaksies as dié wat ons intuïtiewe, paniekbevange instinkte suggereer, is moontlik.
Die evangelie sê dat ons nie hoef te vrees nie, maar mag vertrou, met die vertroue wat wysheid kan bring.
Maar vrees – nie angs nie – kan wel ook goeie raad gee. Ons kan eintlik nie sonder vrees nie. Vrees vir die bose, vir gevaar, is noodsaaklik. Sonder gesonde vrees sal kinders hulle vingers gou verbrand, letterlik en figuurlik. Deel van kindgrootmaak is om hulle te help om bedreigings betyds raak te sien en te leer vermy.
’n Mate van vrees is dus heilsaam. Dis immers uit vrees vir die gevolge dat baie mense nie dwelms gebruik nie. Dat sommige mense nie korrup is en handel nie. Dat party mense apartheid kon afsweer. Vrees help vandag in die stryd teen vigs. Afskrik vorm ’n hoeksteen van die strafreg.
En ja, die vrees van die Here is die begin van alle wysheid (Job 28:28, 1953-vertaling). Die “vrees” waarvan hier gepraat word, is ’n heilige respek, ’n terugdeins, ’n huiwering voor die Heilige – en dié vrees voed weer ’n heilige respek vir ons naaste, ’n huiwering voor die geheimenis van lewe, voor die waardigheid van menswees, ’n vrees dat ons dalk in ons naaste iets mag skend van die beeld van die Heilige.
Nee, vrees kán goeie raad gee. Dit mag motiveer, ja. Maar dit wys nog nie die koers nie. Vrees is nie die béste argument teen dwelms, vigs of apartheid nie. Vrees alléén lei nie tot verantwoordelikheid en menslikheid nie. Alléén gaan dit ons nie help om ’n veiliger, gelukkiger wêreld, samelewing en vasteland te bou nie. Daarvoor is méér nodig.
Maar wat? ’n Mens vrees dié antwoord is nie so eenvoudig nie . . .