Читать книгу Stukkies van die hemel op aarde - Dirkie Smit - Страница 36
Dissipline
ОглавлениеOns wêreld, ons samelewing, smag na moraliteit.
So sê talle denkers en leiers vandag, en oraloor. Omtrent almal stem daaroor saam, en almal klink ewe bekommerd. En die meeste van dié denkers en leiers stem boonop saam dat enige langtermyn-bydrae sal moet begin by die vorming van morele mense.
Maar hoe gebeur dit?
Die bekende Katolieke moraalfilosoof Johannes van der Ven skryf ’n boek hieroor: [15]Vorming in waarden en normen. ’n Dekade later skryf hy nog een: Formation of the moral self. Hy het die eerste keer iets nagelaat, sê hy, van iets ’n bietjie vergeet – naamlik van die belangrike rol van dissipline.
Gesonde dissipline, skryf Van der Ven, is van sleutelbelang in die vorming van mense wat wil uitleef wat goed, reg en wys is. Ons sien meestal egter eers goed hoe belangrik dissipline regtig is wanneer sake begin skeefloop. En hy noem verskillende voorbeelde.
Dissipline loop skeef in gevalle van verwaarlosing, waar dissipline saam met die gesinslewe totaal verbrokkel het en kinders op straat – of dalk alleen voor die televisie of die rekenaar – hulself grootmaak.
Of dit loop skeef in permissiewe gesinne waar dissipline doelbewus deur ouers versaak word, dikwels vanweë ’n verbruikersmentaliteit van doen-tog-maar-wat-julle-wil, begeer-net-wat-julle-wil, geniet-wat-julle-ook-al-wil, koop-wat-julle-wil, soveel en so vryelik as wat julle kan.
Maar sake loop ook skeef waar rigorisme voorkom, sê Van der Ven, waar daar wel dissipline is, ja, maar ’n siek soort dissipline, dwingend en onderdrukkend – soos in die berugte Pruisiese opvoedingsopdrag om “die kind se bose wil te breek” deur middel van dissipline.
Wat is gesonde dissipline dan? vra Van der Ven. En hy antwoord self: Dis nié outoritêr, soos in rigorisme nie. Nóg is dit alte verdraagsaam, soos in permissiwiteit. Nóg is dit onverskillig, soos by verwaarlosing.
Gesonde dissipline verg wel sterk beheer, sê hy, maar altyd sáám met baie omgee, baie sorg en baie liefde.
Goeie dissipline vra dat kinders gelei en aangemoedig word met ’n duidelike doel, naamlik: dat hulle sal groei tot volwassenheid, gesonde oordeel en vryheid. Dat hulle voortdurend gehelp sal word om te verstáán wat op die spel is in die norme, reëls en waardes waaroor die gemeenskap so sterk voel. Dat hulle ondersteun word om dié waardes en norme bewustelik al meer vir hulself toe te eien, al meer hulle eie te maak.
Maar tegelyk moet hulle deurentyd bewus bly van die volkome aanvaarding van die kant van hulle ouers, en nóóit verwerp voel of ervaar dat liefde van hulle weerhou word as vorm van dissipline nie. Selfs die straf wat soms nodig mag wees, moet altyd deur hulle beleef word as gestaltes van liefde, nie as vorme van kritiek of verwerping nie, sê hy.
En waarom is sulke dissipline so belangrik? Wel, sê hy, in vaktaal, omdat dit lei tot gewoontevorming, en dié weer tot selfregulering.
Dissipline kweek gewoontes. En dié word later deel van jou karakter, jou aard, jou menswees. Sodat jy dié dinge later vanself en van harte, as tweede natuur, begin doen. Sodat jy jousélf later in die lig daarvan leer meet en weeg en, waar nodig, verander. Gelowiges noem dit bekeer.
Sonder súlke mense – wat hulself as ’t ware van buite kan sien, kan beoordeel, en indien nodig, kan regruk en toewy aan menslike waardes – is enige samelewing siek tot die dood, sê hy.
Ja, dit klink so eenvoudig, ’n mens staan eintlik verbluf oor hoe iemand wat oor morele vorming skryf, in sy eerste boek die waarde van dissipline kon vergeet! Maar dan weer, as ’n mens ’n bietjie rondkyk, is jy amper nog méér verbaas dat iemand dit uiteindelik tog wel ’n slag weer onthou het . . .