Читать книгу Stukkies van die hemel op aarde - Dirkie Smit - Страница 22
Nuuskierigheid?
ОглавлениеIs nuuskierigheid ’n deug of ’n ondeug? Iets om na te streef of te vermy? Behoort ouers nuuskierigheid by hulle kinders aan te moedig, of nie? Dwarsdeur die Christelike tradisie – en lank tevore, by Griekse filosowe en Romeinse leermeesters reeds – het dié vraag die menslike gees geboei.
Altyd was daar sommige wat oortuig was dat nuuskierigheid gevaarlik is. Sedert Sokrates het denkers al diepsinnig daarteen gewaarsku. Figure soos Eva – met die lus om te luister waar sy moes ligloop en te peusel waar sy moes padgee; en Ikarus – wat wou vlieg ver bo sy vermoë, dien as tipiese voorbeelde van dié hunkering wat uitloop op ellende. Ook in die volkswysheid van talle kulture sou dié siening neerslag vind. Nuuskierige agies word aangepraat. Curiosity killed the cat. Van nuuskierigheid is die tronk vol.
Maar altyd was daar ook ander menings. Trouens, sommige sê dat die ontwikkeling van die moderne Westerse lewe – te danke aan wetenskap en tegnologie – die direkte gevolg is van nuuskierigheid. Eers toe nuuskierigheid die oorhand gekry het, al meer as deug gesien is, toenemend as lewensideaal bevorder en nagestreef is, kon ons moderne wêreld groei, gebou op eksperimente en ontdekkings.
Maar eintlik is die verhaal nog ingewikkelder. Deur die jare het mense geweet daar is nuuskierigheid én nuuskierigheid. Doelbewus is daar ’n onderskeid gemaak tussen “ydele nuuskierigheid” aan die een kant en “weetgierigheid” aan die ander, curiositas teenoor studiositas. Die een verwoes die lewe, die ander dien dit – en om dié onderskeid te leer ken, is die doel van ware opvoeding en die blywende uitdaging vir ouerhuise en skole! In dwase selfvernietiging wil mense alles self beproef en glo hulle nie as ander hulle waarsku teen warm plate en teen dwelms nie. Maar uit ewe dwase selftevredenheid rus ander weer net in wat hulle reeds weet en reeds kan, en hunker hulle nie om te ontdek, te leer, te groei, ja, selfs te kan vlieg nie.
Dus: Is nuuskierigheid deug of ondeug? Goed of kwaad? Hoekom wil jy weet? Hoekom vra jy?