Читать книгу Stukkies van die hemel op aarde - Dirkie Smit - Страница 30

Jack-wie-ook-al

Оглавление

Die figuur in die T-hemp was enorm, met lang, wilde hare, ruie baard, skor stem – en voor op die hemp, in yslike letters geskrywe: You don’t know Jack if you don’t know Jesus.

Vermoedelik was hy Jack en was dit sy hemp, maar wat sou hy met dié woorde bedoel? Sommerso tydens die saamdrom daar by die pizza-wegneemtoonbank, met almal klaar ongeduldig en iesegrimmig, was dit net nie die regte tyd en plek om hom daaroor uit te vra nie, al het Paulus ook gedink tydig én ontydig is goed.

Maar wat Jack self ook al bedoel het, gee dié woorde tog rede tot nadenke.

Onder dié wat hulle geloof so graag op hulle mae dra, sou ’n mens tog eerder die omgekeerde belydenis verwag? Iets meer in die gees van: You don’t know Jesus if you don’t know Jack. Met die bedoeling, dalk, van: As jy wil weet wie Jesus is, ja, wie God is, vra vir my. Ek weet, óns weet, trouens, nét ons weet, en almal anders is mislei en verblind – dís tog eerder die godsdienstige gees van ons tyd?

Maar nee, sy hemp getuig nie van geestelike arrogansie en fanatisme nie, maar verwoord eerder ’n diepe oortuiging van die Christelike tradisie, al vanaf Paulus se tyd, naamlik dat die eintlike geheim van ’n mens se lewe nie in jouself geleë is nie, maar in God. Dat wie iets wil snap van wie ons is, nie na óns moet kyk nie, maar na Jesus Christus. Dat ons almal veel, veel meer is as die totaal van ons eie handelinge en gebreke, méér as die produk van ons eie prestasies en mislukkings. Ja, dat die diepste geheim van ons lewe is dat ons voorwerpe is van God se ewige liefde – ondanks onsself.

As meer mense dit maar van hulself wou glo. Dat hulle waardevol is, kosbaar in God se oë. As meer teleurgestelde, wanhopige, verbitterde, eensame mense hulself tog kon leer sien soos Jesus hulle sien!

En as meer van ons dit tog van ons naastes kon leer glo. Dat hulle meer is as wat ons met die blote oog van hulle kan sien. Dat hulle heiliger is, waardiger, meer wonderbaar, meer kosbaar as wat ons ooit sou vermoed terwyl ons hulle bloot meet aan wat ons sien. As ons tog maar kon leer glo dat dit geld vir wie ook al. Van ons kinders, ons kennisse, die vreemdelinge op ons pad, ja, juis ook van ons teenstanders en vyande.

Daarom sê die bekende Karl Barth: “Die één belangrikste gedagte wat ons oor élke mens mag dink, en behoort te dink, is dat Jesus vir háár en vir hóm gekruisig en opgewek is.”

Dié oortuiging, dié belydenis skuil immers agter die siening van die waardigheid van die mens, van álle mense, ongeag wie of wat hulle is; en van hulle regte – beginsels wat oor eeue heen so moeisaam sou ontwikkel tot ons dit vandag hopelik byna as vanselfsprekend aanvaar.

Het Jack dit alles geweet? Het hy dit só bedoel? Wie weet? Maar as hy hét, kon hy net so goed in plaas van “Jack” sommer net “die mens” geskryf het, of “enigeen”, hoi polloi, ja, Jan Rap en sy maat.

Om te weet wie wie ook al is, moet ons weet wie Jesus is. En as ons weet wie Jesus is, mag ons dalk net verbaas staan oor enige Jack-wie-ook-al.

Stukkies van die hemel op aarde

Подняться наверх