Читать книгу Stukkies van die hemel op aarde - Dirkie Smit - Страница 26
Godslastering?
Оглавление“Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie” (Eks 20:7). Sondag na Sondag hoor baie van ons dié woorde, as spieël én as uitnodiging. Vir baie gelowiges dra dié woorde groot gewig. Dit gaan immers om God se lof, letterlik (in die oorspronklike tale en betekenis) om God se “gewig”, wat bely word in dié heilige Naam. Dié heiligheid moet geheilig word, dié gewig behoort gewig te dra in hoe ons praat en wat ons doen. Dié Naam vertel van God se eie aard. Vir sommige Jode dra dit soveel gewig dat dié Naam nooit geskryf of uitgespreek word nie, maar altyd vervang word deur leestekens of omskrywings. En ook vir Christene weeg dié Naam swaar. Die Ons Vader leer ons immers bid: “Laat u Naam geheilig word” (Matt 6:9).
Maar hóé heilig ons God se Naam? En hoe misbruik ons dit?
Dis interessant.
Die Bybel praat op talle maniere hieroor. In Levitikus 22:31-33 lees ons byvoorbeeld: “Gehoorsaam my gebooie en voer dit uit. Ek is die Here. Julle mag nie my heilige Naam ontheilig nie. Die hele Israel moet My as die Heilige erken. Ek, die Here, heilig julle. Ek het julle uit Egipte gebring sodat Ek julle God kan wees.”
Dié soort gedagtes vind ons oral. God se eie aard word sigbaar in sy wonderbare dade van genade, redding en reg. Dít is sy heilige Naam! En sy volk, wat dié Naam dra, behoort so te leef dat hulle dié genade en reg weerspieël, sodat almal dit kan sien en weet Wie God is.
Hoe ontheilig ons dus dié Naam? Deur dit te dra op maniere wat nie daarby pas nie! Deur nie dié genade en reg te vertoon nie! Ons kan dié Naam selfs ontheilig deur die manier waarop ons dit bely! Ons kan dit misbruik deur hoe ons dit dra, deurdat ons gedrag dit juis verloën! In die Bybel is lastering nie maar bloot om vloekwoorde ligtelik te gebruik nie. En dis in die Bybel nie eintlik ánder – dié wat niks aan die Naam het – wat dit ontheilig nie, maar juis hulle, óns, wat dit dra, maar dan op wyses wat nie pas nie! Ons kan, by wyse van spreke, dié Naam selfs ontheilig deur die manier waarop ons beswaar maak teen ánder wat volgens ons laster!
Die vraag is eintlik wát, nee Wié, mense in ons sien!
En dalk is “interessant” hier bo nie die regte woord nie?