Читать книгу Stukkies van die hemel op aarde - Dirkie Smit - Страница 31
Draai om en slaap
ОглавлениеEfesiërs 4:26 sê iets oor kwaad word wat veronderstel dat dit ons álmal van tyd tot tyd gaan oorkom: “As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ’n dag kwaad afsluit nie.” Die implikasie is duidelik: Ons moet vrede maak voor ons gaan lê. Want wie weet wat in die nag alles kan gebeur – en of die kans vir versoening nie dalk vir altyd verby kan wees nie? Of watter dwase idees ons nie dalk gaan kry as ons met harte vol woede en wrewel op ons bed lê en rondrol nie?
Nou kom dié woorde wat in Efesiërs aangehaal word net so uit die Septuagint, ook die LXX genoem, die ou en invloedryke Griekse vertaling van die Hebreeuse Ou Testament. Die Jode in die destydse Griekssprekende wêrelddele, soos Noord-Afrika en Palestina, en ook die Nuwe Testamentiese gelowiges – immers óók meestal Jode – het dié vertaling gebruik. Efesiërs se aanhaling was vir hulle bekende woorde, want dit kom direk uit Psalm 4:5 van húlle Bybel.
Maar hier gebeur iets merkwaardigs. Want hierdie Griekse vertaling – wat húlle ken, en wat Efesiërs daarom gebruik – sê iets effe anders as wat dié Psalm oorspronklik in die Hebreeuse Bybel sê en wat ook tot vandag in ons Ou Testament voorkom.
Dáár gaan dit naamlik nie om kwaad word nie, maar om besorgdheid! “Sidder (van vrees, ontsteltenis, bekommernis), en moenie sondig nie; spreek in julle hart op julle bed, en wees stil,” het die Afrikaanse Bybelvertaling van 1953 die Hebreeus van Psalm 4:5 – heeltemal korrek – vertaal. En die 1983-vertaling doen dit selfs nog mooier: “As jy ontsteld raak, moenie sondig nie; dink in stilte daaroor na as jy gaan lê, en laat dit daarby!”
Ons bewing van bekommernis, ons siddering van skrik, ons hartkloppings van ontsteltenis en besorgdheid – dís waarvan die Ou Testament hier praat! En ons weet maar alte goed hoe maklik ontsteltenis ’n mens kan laat sondig, veral as jy in stilte en eensaamheid op jou bed lê, en die vrees en ongeloof met jou paniekbevange gedagtes op loop gaan, tot dit jou keel toedruk.
Nee, as iemand dink dat woede ons laat sondig, laat hulle weer dink – besorgdheid, bekommernis, vrees, onrus in die hart, kwellinge doen dit nog veel meer! Trouens, vir die Bybel láát vrees ons nie net sondig nie, maar is vrees as sodanig reeds sonde. Dit word ’n gebrek aan vertroue in die Een wat nie sluimer of slaap nie (Ps 121), ook deur ons donkerste, langste nagte. Al duur dié nagte soms maande, ja, jare.
Ja, seker, ons kan besorgdheid nie verhelp nie. Ons kan vrees en kwellings nie van ons wegkeer nie. Dit gáán oor ons kom, so seker soos wat ons gaan kwaad word. Die Here weet dit, daarom gaan die Ou én Nuwe Testamente van die veronderstelling uit.
Bekommernis en vrees sal daar altyd wees. Dis daar van nature, dit vreet aan ons gedagtes, veral in die skemer van die aand en deur die eensame ure van die nag.
Vir seker gaan ons ontsteld raak. Vir seker gaan ons sidder. Maar dan kan ons met onsself praat, in die stilte van ons eie hart, ook in die donker van die donkerste nag, as die vrees ons keel toedruk – vrees oor ons kinders, ons dierbares, onsself, oor die dag van môre . . . Ons kan ons daarin berus dat ons aan God behoort. En dan omdraai, en tot rus kom.
Want Hy sal nie slaap nie.