Читать книгу Stukkies van die hemel op aarde - Dirkie Smit - Страница 41
Spieël-beeld
ОглавлениеDie Christelike tradisie is lief vir in-die-spieël-kyk-beelde. Reeds die Nuwe Testament gebruik dié beeld op verskeie maniere – soos in die aangrypende 2 Korintiërs 3. Wanneer ons die Skrifte lees, is ons soos mense wat in ’n spieël kyk. En in die spieël sien ons vir Christus, sien ons – so staan daar – sy heerlikheid.
Maar dis ’n vreemde spieël dié. Gewoonlik, wanneer ons voor ’n spieël staan, weerspieël die beeld daarin vir ons wat vóór die spieël staan. En as ons sou beweeg, verander die beeld in die spieël om ons bewegings te volg.
Met die spieël van die Woord is dit egter presies omgekeerd!
Terwyl ons in dié vreemde spieël kyk, sê 2 Korintiërs 3:17-18, word óns van gedaante verander! Ons begin al meer lyk, al meer word, soos die beeld in die spieël. Ons word deur God se Gees verander, van heerlikheid tot heerlikheid. Ons raak al meer gelykvormig aan die beeld van Jesus! Só maak die Gees ons lewend, deur die Woord, en word ons al méér beelddraers van Christus, die Here. Die gevolg is dat ons “lewende briewe” van Christus word, sê dié hoofstuk, vir almal om te lees. Sodat mense hopelik iets van die heerlikheid van Christus, van sy genade en ontferming, in ons weerspieël sal sien.
Deur die eeue sou dié gedagtes die kerk boei, en geen wonder nie! Ook die 16de eeuse Hervormer Johannes Calvyn was hieroor verwonder. Hy begin sy [17]Institusie, ’n handboek wat lidmate moes help om die Bybel te lees, deur te sê dat Godskennis en selfkennis hand aan hand gaan. Ons sal onsself nooit waarlik leer ken as ons God nie ken nie, sê hy. En as ons God ken, sal ons ook onsself leer ken. Want in die Christelike Godskennis gaan dit om óns.
Geloof, so skryf Calvyn, is om “na te dink oor die gesig van God”. Geloof is om in Jesus Christus die liefdevolle, barmhartige gesig van God te sien, en om die res van ons lewe daaroor te peins en ons te verwonder oor dié heerlikheid. En terwyl ons só nadink oor die gesig van God, dink ons eintlik ook na oor onsself; leer ons onsself ken. In dié gesig, soos in ’n spieël, sien ons die heerlikheid van Jesus én tegelyk onsself; ons sien wie ons in der waarheid is, naamlik – hoe onbegryplik ook al! – voorwerpe van God se ewige liefde.
Elke jaar weer, ’n week ná Pinkster, vier die kerk Drie-eenheidsondag. Dit is asof ons in die ritme van die kerklike jaar dán eers die heerlikheid van die gesig van die drie-enige God voluit sien. Met Advent en Kersfees skemer reeds iets deur van God se vriendelike gesig in die Seun wat vlees word vir ons. Met Lydenstyd, Pase en Hemelvaart word daar ál meer sigbaar van die ontfermende liefde van die Vaderhart. En met Pinkster kom woon die lewegewende Gees in en onder ons, in kosmos en kerk. Dán aanskou ons God se heerlikheid, in die spieël van die evangelie, God se liefdevolle gelaat, en óns daarin weerkaats – as voorwerpe van dié skeppende, verlossende, vernuwende liefde van die Drie-eenheid, Vader, Seun en Gees.
Wie wil sien wie ons ten diepste is, en kan wees en behoort te wees, hoef nie verder te soek as dié spieël nie.
Wat ’n beeld!