Читать книгу Stukkies van die hemel op aarde - Dirkie Smit - Страница 38

In die spieël?

Оглавление

Ons samelewing smag na morele vorming.

Morele vorming bou karakter, dit help vorm mense van integriteit, mense wat weet wie hulle is, wat weet waarvoor hulle staan, wat weet waarin hulle glo – en wat bereid is om só te leef, ook al hou niemand hulle dop nie. Ware morele mense se gedrag is nie afhanklik van ander se opinie nie, maar van hulle eie, selfs al kos dit iets, selfs al moet hulle daarvoor opoffer en ’n prys betaal. Morele mense leef moreel omdat hulle nie ontrou wil wees aan hulself nie.

Hulle wil nooit skaam wees om in die spieël te kyk en hulself te sien nie.

Maar ons moeilikheid is dat dié sienings deesdae ouwêrelds klink. Ons leef nou in ’n pluralistiese, gefragmenteerde wêreld, sê mense. Eintlik leef ons in talle wêrelde tegelyk, elk met sy eie spelreëls en sy eie manier van doen. Dis tipies van die moderne lewe, in moderne samelewings, so sê hulle. In óns land is dit dalk nog nuut, is dié tendens nog besig om te ontwikkel, om te groei en ryp te word as die volle vrug van snelle demokratisering en sekularisasie, maar elders is dit al ou nuus.

Kenners van sosiale teorie beskryf die verloop van modernisasie presies só. Lewensterreine wat vroeër nog één was, val uiteen. Waar politiek, die onderwys, godsdiens en kultuur vroeër op mekaar ingewerk het, word dit nou aparte leefwêrelde, elkeen met sy eie reëls en wetmatighede. ’n Tipe optrede wat in een van dié wêrelde pas, geld elders glad nie. Wie jou vriende is in een van dié wêrelde, gaan jou verleë maak as hulle in een van die ander sou opdaag! En daagliks reis ons as ’t ware heen en weer tussen ons verskillende bestane, tussen ons uiteenlopende lewenswêrelde. Nou leef ons volgens dié reëls, en netnou weer volgens dáárdie, soos vaardige verkleurmannetjies.

Word dit nie êrens onhoudbaar nie? Lei dit nie tot ondraaglike spanning nie?

Nie volgens die moderne tydsgees nie, want die modernisme glo in individue wat on-deelbaar is, soos letterlik in die Engelse woord un-divided. ’n Individu is, glo, undivided, heel, geïntegreer, só sê hulle. Êrens is daar iemand, ’n self, ’n persoon, so glo moderniste, wat nié so verdeeld, pluralisties en gefragmenteerd is soos die samelewing daar buite nie. Dié onverdeelde individue, één en héél, met duidelike identiteite, weet wie hulle is. Trouens, wéét is die sleutelterm. Dis juis hulle wete, hulle rede, hulle denke, hulle selfbewussyn wat, glo, identiteit verseker. Dié on-deelbare individue wéét wie hulle is, van waar hulle kom, waarheen hulle gaan, wat hulle wil – ten spyte van alle fragmentasie. So word geglo.

Dié soort sosiale teorieë praat daarom dikwels ook van sosiale “rolle” wat ons speel. In elkeen van dié leefwêrelde gedra ons ons netjies volgens wat in die betrokke omgewing van ons verwag word, soos akteurs wat rolle vertolk in die teater. Ons weet wat om te doen op die plek waar ons ons op ’n gegewe oomblik bevind. Ons ken ons rolle, ons dra ons maskers, maak ons buigings, sit ons hoede op. Maar eintlik is ons nie regtig só nie – en agterná, privaat, alléén haal ons die maskers af en is ons steeds onsself – die akteur, die individu, die iemand, die self ágter die rolle. Só word gesê en geglo.

Maar deesdae, so voel vele kenners, is dinge dalk veel, veel erger. Dalk bluf ons onsself met dié geloof in die onverdeelde individu, sê dié geleerdes. Die pluralisme daar buite het reeds ’n pluralisme binne-in onsself ook geword, vrees hulle. En ons sien dit oral om ons. Die fragmentasie rondom ons het ’n fragmentasie van die hart geword. Nádat die rolle gespeel is, is daar niemand meer oor om huis toe te gaan nie. Ons hét geen ware, eie identiteit meer nie. Waar daar iemand moes wees, ’n individu, ’n onverdeelde self, is daar net fragmente, brokstukke, soos van ’n legkaart.

Ons weet nie wie ons is, van waar ons kom, waarheen ons gaan, of hoekom nie. Dis die post-moderne gevoel, sê mense. Die moderniste se geloof dat ’n individu alle verwarring en vrae in hom- of haarself kan byeenhou, word in ons tyd ontmasker as bygeloof, as selfbluf.

Nee, dis nie meer soseer dat ons skaam is om onsself in die spieël te sien, en daarom nie daarin wil kyk nie. Inteendeel. Ons kyk, sê Andy Warhol, die 20ste eeuse Amerikaanse kunstenaar en gevierde simbool van die postmoderne tydsgees – maar daar is niemand nie!

Stukkies van die hemel op aarde

Подняться наверх