Читать книгу Stukkies van die hemel op aarde - Dirkie Smit - Страница 27

Passie

Оглавление

Waarvoor bid ons eintlik as ons pleit: “Laat u Naam geheilig word?” vra die gereformeerde belydenisskrif, die Heidelbergse Kategismus (Vraag 122, Sondag 47), en antwoord dan self wat dit beteken: “Gee allereers dat ons u reg sal ken en dat ons U sal heilig, roem en prys in al u werke waarin u almag, wysheid, goedheid, geregtigheid, barmhartigheid en waarheid so skitter. Gee verder dat ons ons hele lewe, gedagtes, woorde en werke daarop sal rig dat u Naam nie om ons ontwil gelaster word nie, maar geëer en geprys word.

“Gee dat ons U reg sal ken, en gee dat ons ons hele lewe só sal leef sodat dit sal help dat u Naam nie om ons ontwil gelaster sal word nie, maar geprys sal word. Gee ook dat u Naam nie om ons ontwil gelaster sal word deurdat ons U nie reg ken nie en omdat ons nie leef soos wat dit pas by u Naam nie.” Dít is wat ons vra wanneer ons (soms so ligtelik) bid: “Laat u Naam geheilig word.” In navolging van Calvyn sou dié strewe – om die Naam van God te verheerlik – in die gereformeerde tradisie ’n oorheersende verlange word. Die slagspreuk soli Deo gloria, alles tot die eer van God, sou oral bekend word as uitdrukking van dié passie. Daarmee bedoel gereformeerdes: Laat ons U tog reg ken, en laat ons tog so leef – in ons woorde, denke en dade, in ons sienings, ons standpunte en ons strewes – dat mense U in ons mag herken en ook aan U die eer mag bring wat U toekom.

Ook vir die bekende Karl Barth – net soos Calvyn ’n Switserse gereformeerde teoloog – was dit só. Sy hele lewe deur was dit sy passie om die “ja” van die liefdevolle God vir alle mense te verkondig, ook onder die moeilikste omstandighede. En daarom moes dié passie ook heel dikwels by hom die vorm aanneem van ’n opspraakwekkende, omstrede “nee”-sê teenoor spesifieke gestaltes van menslike onreg en geweld in sy eie tyd (byvoorbeeld teenoor Hitler en die Nazisme).

In sy heel laaste reeks voorlesings voor sy dood lê Barth die Ons Vader uit, en praat op aangrypende wyse oor dié bede: “Laat u Naam geheilig word.” Hy doen dit onder die opskrif: “Ywer (passie, zeal) vir die eer van God.” Sy biograaf, Eberhard Busch, het dan ook ’n studie oor Barth se werk die lig laat sien wat hy tereg noem: [13]Die verterende passie (Die grosse Leidenschaft) – en hy verwys spesifiek na hiérdie passie.

Ja, ons heilig die Naam van ons God as ons deur ons woorde en dade só leef dat mense, álle mense, in ons die ontfermende, genadige liefde van God kan sien en ervaar.

Wie kan die waarde bereken van gelowiges, gemeentes, ’n kerk wat deur dié ywer verteer word?

Stukkies van die hemel op aarde

Подняться наверх