Читать книгу Stukkies van die hemel op aarde - Dirkie Smit - Страница 28

So is die lewe

Оглавление

Só is die lewe, sê die jongman in die hospitaalbed langs myne. Hy praat met oortuiging en sekerheid, gebore uit eie ervaring. Hy was fiks en sportief toe ’n fratsongeluk by die werk sy ingewande so erg vergruis het dat dokters dit oor etlike jare van nuuts af moes opbou.

In een enkele oomblik het alles verander. Ja, só is die lewe, sê hy, ’n mens weet nooit wat volgende wag nie.

Wat natuurlik inhou dat niks in die lewe vanselfsprekend is nie. Ook nie die mees gewone, die sogenaamd “alledaagse” nie. Niks is eintlik gewoon nie, hoe gewoond ons ook al daaraan mag raak. Niks is alledaags nie, want op ’n dag kan alles verander tot iets van die verlede. Dis dié dat sommige ons aanraai om met potlood in ons kalenders en dagbeplanners te leer skryf, sodat dit maklik weer kan uitvee. Want môre is nie in ons hand nie.

Ons moet leer dink volgens as-die-Here-wil-en-ons-lewe, sê Jakobus (4:15).

En wie dít eers geleer het, herinner my saalmaat my, sien alles voortaan in ’n nuwe, anderse lig. Wie eers gesien het dat die lewe só is – broos, verganklik, en daarom wonderbaar, góéd, héérlik, juis in die aller-eenvoud daarvan – dié ontdek die ewige in die alledaagse, die wonder ín die gewone, die genade in die vertroude, die liefde van God in die kleinste gawes. Dié leer met nuwe vreugde, verwondering en erkentlikheid die sogenaamde vanselfsprekendhede van die lewe ontvang en opnuut waardeer.

Hy was die afgelope naweek huis toe, vertel die jongman, en elke oomblik met hulle twee kleintjies was wonderlik, héérlik, genade – voor die pyn hom sou terugbring hospitaal toe.

Vir elkeen is die soort klein genades ánders. Dit kan klank en melodie wees, of kleur en skoonheid, warmte en koelte, geure en assosiasies, herinnerings en drome, geselskap en vriendskap of alleen-wees en dink, eenvoudige ervarings. Vir wie geleer het dat niks sommer gewoon is nie, maar alles wonderbaar, is elke oomblik die ene inspirasie, om te wil vasvang en vashou in derduisende potloodsketse van dankbare verwondering. Want só is die lewe.

Stukkies van die hemel op aarde

Подняться наверх