Читать книгу Stukkies van die hemel op aarde - Dirkie Smit - Страница 29

Oor drome

Оглавление

Ons word nogal dikwels herinner aan Martin Luther King Junior se inspirerende “I have a dream”-toespraak van 28 Augustus 1963, al goed meer as veertig jaar gelede, wat steeds bly tref en ontroer. Van die woorde wat in mense se koppe bly vassteek het, was: “Ek het ’n droom dat my vier jong kinders eendag in ’n samelewing sal woon waar hulle nie op grond van die kleur van hulle vel beoordeel sal word nie, maar volgens die kwaliteit van hulle karakter.”

Soms vergeet ons egter dat sy droom nie daar geëindig het nie. Enkele jare later het dit gelyk of dit vervul word, toe die Voting Rights Act van 1965 aanvaar is, met wye dankbaarheid oor die bevryding wat dit vir slagoffers van rassevooroordeel sou bring. Maar binne enkele maande skryf King nóg ’n aangrypende boek, dié keer somber en waarskuwend, [14]Where do we go from here: Chaos or community? Dis ’n boek met ’n vraagteken, ’n oop einde, ’n onsekere antwoord, wat lesers self sal moet gee.

Binne ’n jaar na die vreugde oor die vryheid, sê hy daarin, het die werklikheid aangebreek. Die droom is nie vervul nie. Die kragte van rassisme, onreg en geweld – en hy ontleed hulle elkeen – was besig om die droom te verslind. Stemreg het nie die harmonie, geregtigheid en vrede gebring soos gehoop is nie. Die gemeenskap, juis ook die pas bevrydes, is opnuut aan flarde geruk, diep verdeel deur klowe en konflik. In plaas van gemeenskap het chaos gedreig.

Die laaste hoofstuk van King se boek is profeties. Dit kon net sowel vandag geskryf gewees het, ná globalisasie, ná 11 September se terroriste-aanvalle in die VSA, ná die oorlog in Irak, ná die botsing van beskawings. Dáár gebruik hy sy eweneens beroemde metafoor van die groot wêreldhuis waarin ons almal woon, Oos- en Westerlinge, heidene en Jode, Katolieke en Protestante, Moslems en Hindoes, swart en wit . . . “’n familie, nog té erg verdeel deur oortuigings, kulture en belange, maar wat, omdat ons nooit weer apart kan leef nie, sal moet leer hoe om in vrede mét mekaar te leef.”

In aangrypende prediker-retoriek wys King op die erns van die oomblik: “Ons staan voor die wete dat môre reeds vandág is. Ons het nou nog ’n keuse: vreedsame saam-bestaan, of gewelddadige saam-vergaan. Dis dalk ons laaste kans om te kies tussen chaos en gemeenskap.”

Ja, drome verg harde werk. Inspanning, en opoffering. Maande later sou hy self met sy lewe die prys betaal. Maar sy droom leef voort, én sy vraagteken.

Stukkies van die hemel op aarde

Подняться наверх