Читать книгу Stukkies van die hemel op aarde - Dirkie Smit - Страница 25
Vernuwing
ОглавлениеGebed bring verandering, gebed bring heling, bevryding en vernuwing. Dié tye van stilword, van inkeer, van verwonderd nadink oor die evangelie, van stamelend soek na woorde om te sê hoe ons voel en wat met ons gebeur – dié tye is oomblikke van ware vernuwing en genesing.
Dit geld vir alle aspekte van bid. Dink maar aan voorbidding, en hoe dít ons verander! As ons ons eie node en behoeftes voor God bring, ja, soms klaend, smekend, vol angs, kom ons paniekbevange harte tot rus deur die vrede wat alle verstand en logika te bowe gaan – en hoeveel kan nie daarvan getuig nie?
In sy boek [12]Die gebed wat die wêreld omspan, ’n verwerking van preke wat hy tydens die Tweede Wêreldoorlog in Stuttgart gelewer het terwyl die bomme letterlik geval het, sê die bekende prediker Helmut Thielicke: “Wanneer die sirenes loei en ons ons kinders teen die bors vasdruk en afhardloop na die bomskuilings, fluister net ’n oomblik in julle hart: ‘Die Vader weet, die Vader weet.’ Dan sal julle gebede verander van die beangste geskreeu van paniekbevange mense na die stem van kinders wat met hulle goeie Vader praat.”
En as ons in ons voorbidding die node en behoeftes van ánder, van die samelewing, van ons vriende, die nood van die wêreld, van ons televisie en ons koerante, ook van ons vyande – as ons dié node in gebed voor God bring, bring dit dan nie vir ons kalmte nie? Is dit dan nie – in Dietrich Bonhoeffer se bekende woorde – soos ’n bad wat ons afwas, wat ons perspektief en prioriteite wysig, sodat ons gebede oorgaan in toewyding, en ons as nuwe mense kan voortgaan nie?
Of dink aan skuldbelydenis – daardie “oefening in naam gee”, soos Karl Barth dit sou beskryf. Leer ons nie daardeur om na onsself te kyk soos ander ons sien, om die leed te herken wat ons hulle aandoen deur ons liefdelose woorde, ons dade en ons versuim nie? Leer dit ons nie om dié leed dan ook te érken en onsself te noem, huiwerend, broos, met die name waarmee húlle ons noem nie? Kan mense wat só bely en dan woorde van vergifnis en vryspraak hoor ooit dieselfde, onveranderd, van hulle knieë opstaan?
Of dink aan lof en danksegging. Hoe het ons in Halleluja 245 gesing? “Tel jou seëninge, tel hulle een vir een . . . As die kruis te swaar word en jou krag te klein – tel jou seëninge, dan vlug twyfel heen, en jy sien God se goedheid laat jou nooit alleen nie.”
Hoe kan sulke oomblikke van seëninge tel ons tog nie verander nie! Hoe bring dit nie dankbaarheid waar daar ontevredenheid en afguns was nie!
Dink net vir ’n oomblik. Hoe anders, hoe nuut sou die wêreld tog nie lyk as ons almal soggens net eers ons seëninge sou tel nie?