Читать книгу Stukkies van die hemel op aarde - Dirkie Smit - Страница 40

Redes

Оглавление

Die 2001-film A Beautiful Mind, oor die lewe van John Nash, die Princetonse wiskundige wat ’n Nobelprys ontvang ondanks erge skisofrenie, het talle bekoor en daar was algemene instemming dat dit die Oscar vir beste prent van die jaar verdien het.

Nash word daarin uitgebeeld as ’n briljante brein, maar ’n moeilike mens. Telkens erken hy self dat mense nie van hom hou nie; dat daar baie aan hom is wat ander vervreem en verskrik. Tog word sy lewe uitgebeeld – histories akkuraat of nie – as ’n innige liefdesverhaal tussen hom en sy vrou. Sy dra en verdra hom wanneer ander nie kans sien nie. Sy vertrou hom wanneer hy dit self nie meer kan of wil nie. Sy bemoedig en inspireer hom.

Trouens, die uitbeelding is sódanig dat ’n mens algaande wonder om wié se beautiful mind dit eintlik gaan!

Van hulle eerste ontmoeting af – hy as dosent, sy as student in ’n warm, raserige klaskamer – word sy uitgebeeld as iemand met dié vermoë wat filosowe sedert Immanuel Kant al die “praktiese rede” noem, met gesonde verstand, normale menslike wysheid, wat méér sien en méér verstaan as net feite en formules.

In ’n diepsinnige oomblik wil hy haar vra om te trou, maar hy twyfel – soos almal maar – oor liefde, en oor ander geesteswerklikhede, oor vriendskap, omgee, getrouheid, hoop, sin, geluk, skoonheid, verhoudings, noem maar op. Daarom vra hy haar om bewyse te lewer van haar vaste liefde vir hom. Hy soek rasionele sekerheid, sodat hy kan wéét en nie hoef te waag nie.

Hoe groot is die universum? wil sy dan van hom weet. Oneindig, sê hy. En hoe weet jy dit? vra sy. Het jy dit gemeet, geweeg, afgetree, gevoel, gesien? Nee, hy gló dit, bely hy. Nou, só is die liefde ook, sê sy. Só is die lewe. Só is menswees. Só is hoop. Só is trou. Só is vriendskap. Onsigbaar, maar wérklik.

In nóg ’n diepsinnige oomblik, met hom op sy siekste en sy op haar eensaamste, vra iemand vir haar hoe dit gaan. Wel, sê sy eerlik en realisties – soos almal met wysheid en geloof – nie goed nie en nie maklik nie. Maar, sê sy in woorde wat net sowel van Luther kon kom, daar is genadiglik genoeg oomblikke waarin sy die gawe ontvang om verby die sigbare en opsigtelike te kyk en haar man te bly sien met oë van liefde, en daarmee saam haarself ook met ander oë te sien. En daarom is daar genoeg redes vir geluk en hoop en lewe. Sy word uitgebeeld as een wat met wonderwerke reken en die wonderbare kan sien.

As Nash ná ’n lange leeftyd die Nobelprys in ontvangs neem, is sy oë – volgens die film – net op sy vrou. Die woorde van sy toespraak is net vir haar bedoel. Sy is sy lewe, bely hy, sy álles, sy is “al sy redes vir lewe” – en dís die som, die slotsom, die groot gevolgtrekking, die ware wete wat al sy soeke en al sy kennis hom gebring het, sê hy.

Dié woorde herinner aan nog ’n groot wiskundige, Blaise Pascal uit die 17de eeu, wat óók ingesien het – soos tallose wiskundiges, fisici, bioloë, medici, chemici en ander wetenskaplikes deur die eeue en steeds nog, die geleerdstes onder ons, hulle in die voorste linies van wat mense kan wéét en uitvind en ontdek en doen – dat die lewe naamlik méér is as eksperimente; dat menswees groter is, meer wonderbaar, meer geheimenisvol as wat ons kan bewys.

Die hart, sê Pascal, het sy redes, waarvan die verstand nie weet nie.

Stukkies van die hemel op aarde

Подняться наверх