Читать книгу Stukkies van die hemel op aarde - Dirkie Smit - Страница 7
Roetine?
Оглавление“Genadige God, my siel het geword soos ’n groot pakhuis waarin trokke dag vir dag hulle vrag kom aflaai, ongeorden en holderstebolder, totdat die hele ruimte van bo tot onder gevul is met onbenullighede, gemeenplase, nietighede, vervelende roetine. Leë woorde en sinlose aktiwiteit, oppervlakkige belange en die pretensie van belangrikheid vul my hart in ’n nimmereindigende stroom. Maar dit help nie om daarvan te ontvlug nie. As ek deur die dag by U wil uitkom, sal dit met ’n pad moet wees wat deur my doodgewone bestaan loop . . .”
Só begin die pragtige vertaling van ’n aangrypende gebed in [2]Die groot gebedeboek. Daaglikse gesprekke met God. Dis van die Katolieke denker Karl Rahner (bl. 32).
Hy sou die afgelope eeu oneindig veel daartoe bydra dat derduisende mense wêreldwyd weer die wonder van menswees ontdek. Gevierd en invloedryk, volgens baie die grootste Katolieke teoloog van die 20ste eeu, bly sy denke diep gewortel in mistieke vroomheidstradisies.
Hy skryf talle gebede en populêre geskrifte oor wat hy “die mistiek van die alledaagse” noem. Hy wou sy moderne tydgenote – gesekulariseer, ontnugter, sonder enige aanvoeling vir godsdiens, geloof en die kerk, eensaam vasgevang in hulle rasionalistiese, siniese ervarings van ’n lewe sonder God – probeer help.
Probeer help om te kan liefhê, om te kan glo, om te kan hoop en om te kan bid. Hy wou sy tydgenote help om die geheimenis van lewe te ontdek en te beleef, dié geheimenis wat hy God noem.
Ons vind die misterie van God nie buite ons gewone ervarings nie, maar juis daarin. Daarom skryf Rahner – soms diepsinnig, filosofies, met indrukwekkende geleerdheid, maar meesal eenvoudig, gewoonweg, vol verwondering – oor ons alledaagse roetine. Oor werk en slaap, oor eet en drink, oor sit en staan, oor enigiets.
Want God is juis deel van ons lewe, sê hy. Hy is vír ons en náby ons. As ons tog maar net kan leer luister, tog net kan leer om die fluisterings van die genade in die roetine van elke dag te hoor . . .