Читать книгу Stukkies van die hemel op aarde - Dirkie Smit - Страница 15

Mis mos

Оглавление

“Ek het nooit besef tuinmaak is so lekker nie,” groet ’n kollega my een oggend met glinsterende oë. “Ek het mos in ’n pastorie grootgeword,” begin hy verduidelik, maar ons word onderbreek en ek mis die res. Wat my laat wonder. Mos? Ek het “mos” in ’n pastorie grootgeword, en dáárom nooit besef hoe lekker tuinmaak is nie? Wat sou hy tog kon bedoel het, met dié vreemde “mos”? Verklaar “pastorie grootgeword” dan sommer vanself nie-weet-hoe-wonderlik-tuinmaak-is-nie?

Is daar dalk iets in die Christelike geloof wat ons vervreem van die grond, van tuine, plante, diere, die aarde? Ek onthou talle stemme – krities, verwytend, sinies – wat die Joods-Christelike tradisie met sy motto “onderwerp die aarde en heers daaroor” beskuldig van ekologiese verwoesting. En ewe talryke studies wat weer die Griekse invloed in dié lang kerklike tradisie verwyt dat dit gees bo materie verhef, siel bo liggaam, die hemel najaag en aan die aarde ontrou raak. Maar ek onthou ook tallose voorbeelde van die teendeel, van hartstog vir die skepping, vir die aarde, vir die grond, vir alle lewe, wat diep in die hart van die Christelike geloof veranker en verwortel lê, en op talle, talle maniere deur die eeue blyk uit die leer en die lewe van die kerk.

Of lê die rede vir sy vreemde “mos” dalk net in die Protestantisme? Lê dit spesifiek aan die tradisie waaruit hy kom, die sóórt pastorie en die sóórt pastorietuin waarin hy grootgeword het?

Ek onthou die aangrypende boek van die Armeense Ortodokse teoloog Vigen Guroian, [3]Inheriting Paradise – Meditations on gardening wat met ontroering vertel hoe die wisselende stemmings in sy tuin sy Ortodokse hart herinner aan die geestelike tye en die wisselende geestelike stemmings van die kerklike jaar. Maar ek onthou óók talle soortgelyke liefdesbetuigings van Katolieke gelowiges oor God se skepping – en ja, vir seker ook van Protestante – en ek weet dis ook nie dít nie.

Of is die “mos” in my kollega se uitspraak dalk sommer eenvoudig baie meer prakties bedoel? Sê dit eintlik maar net dat mense wat nie hulle eie lappies grond en hulle eie huise het nie – soos soveel predikante – “mos” dikwels die onuitspreeklike wonder van naby-die-aarde-te-lewe ontbeer, mis, nooit ken nie? Is sy “mos” dieselfde “mos” as die “mos” van miljoene in ons stede, woonstelle, kampongs, koshuise, ja, van vlugtelinge, vreemdelinge, grondloses om derduisende redes, wat geeneen ooit dié voorreg smaak van eie aarde nie? En, gesien vanuit die tradisies van die Christelike geloof, is dit nie verskriklik, diep treurig, tragies nie?

Vanweë hoeveel mosse mis mense dalk hulle lewe lank die wonderbare misteries van die mos op God se grond en die mossies in God se lug?

Stukkies van die hemel op aarde

Подняться наверх