Читать книгу Stukkies van die hemel op aarde - Dirkie Smit - Страница 20
Februarie
ОглавлениеNagedink oor gebed,
oor drome
– en oor rus in God.
______________________
Ons kan die besorgdheid nie verhelp nie.
Ons kan die vrees en die kwelling nie van ons weer nie.
Dit gaan oor ons kom, so seker soos wat ons gaan kwaad word.
Die Here weet dit, daarom gaan die Ou én Nuwe Testamente
daarvan uit. Dis daar, van nature, dit vreet aan ons gedagtes,
veral in die skemer van die aand en deur die eensame ure van die nag.
Vir seker gaan ons ontsteld raak.
Vir seker gaan ons sidder.
Maar dan kan ons met onsself praat,
in die stilte van ons eie hart,
ook in die donker van die donkerste nag, as die vrees ons keel toedruk
– vrees oor ons kinders, ons dierbares, oor onsself,
oor die dag van môre –
en ons kan vir onsself opnuut van God vertel.
En omdraai, en tot rus kom.
Want Hy sal nie slaap nie.