Читать книгу Stukkies van die hemel op aarde - Dirkie Smit - Страница 14

Skole maak mense

Оглавление

Skole maak mense. Deur die eeue, in alle gemeenskappe, alle kulture. Dit wat “skole” genoem word – hoe uiteenlopend ook al! – is altyd bedoel om dié soort mense te kweek wat die betrokke gemeenskap wil hê. Skole moet “ware mense”, goeie burgers, staatmakers voortbring; goed opgevoedes, mense om mee saam te leef in ’n gelukkige samelewing.

Oorspronklik het die woord skool eintlik “vrye tyd” beteken! In die Griekse stadstate, soos Athene of Sparta, was net die bevoorregtes se kinders gelukkig genoeg om “vrye tyd” te hê – omdat hulle nie van kleins af die huishouding moes help dra nie. Dié kinders kon hulle vrye tyd op die markpleine verwyl, in die skole van die denkers deurbring, aan die voete van figure soos Sokrates, Plato en Aristoteles.

Dáár is hulle wysgemaak hoe om te leef, as mense, as burgers op wie die betrokke stad kon staatmaak; geleer hoe om die ambag van die lewe, die kuns van menswees, te beoefen. Hulle moes praktiese kennis, lewenskennis, opdoen. Hulles moes veral krities leer dink, ook oor nuwe vrae en uitdagings wat oor húlle pad sou kom in dae vorentoe, wanneer hulle leermeesters nie meer kon help nie.

Aan die wortel van dié lewensvaardighede het die sogenaamde “kardinale deugde” gelê – waardes wat hulle hul eie moes maak; lewensinstellings om deur jare lange dissipline en oefening aan te leer en vir hulle toe te eien, tot dit tweede natuur sou wees, vanself sou kom in enige krisis. Vir die Grieke was dit deugde soos wysheid, geregtigheid, moed en matigheid. As skole súlke mense kon kweek, het hulle geglo, sou hulle samelewing gelukkig wees, menslik, góéd.

So was dit ook in Bybelse tye. Dink aan die profete met húlle skole, aan die wysheidsleraars, aan Jesus en sy dissipels, aan Paulus en Timoteus.

En so is dit nou nog. Met die eeue wysig die waardes en deugde dalk, maar ten diepste hoop alle gemeenskappe dat skole dié soort mense sal lewer wat dié betrokke samelewing menslik, gelukkig, leefbaar, sal maak.

Dit gaan om méér as net die aanleer van kennis, van die nuutste stand in vakke en dissiplines, al beskou ’n samelewing dié ook al as hóé belangrik, soos in ons dag. Dit gaan selfs om meer as net die voorbereiding van mense om spesifieke openbare rolle te speel, take te vervul, beroepe te beklee, soos wat deur die sogenaamde “uitkomsgebaseerde onderrig” dikwels tragies misverstaan word.

Nee, ágter die kennis en ágter die beroepsopleiding skuil dieper behoeftes, word ’n belangriker uitkomste nagejaag, naamlik om ménse te vorm. En dit gebeur op allerlei maniere. Ja, ook soms deur áfleer – wat dikwels belangriker en moeiliker is as aanleer!

Gelukkig is ’n samelewing met goeie skole, waar deugsame mense gekweek word, landsburgers op wie gereken kan word in uitdagende tye.

Daarom is gemeenskappe verantwoordelik vir die soort skole wat hulle het. Samelewings kry die skole wat hulle verdien. Burgers, ouers, onderwysers en kinders máák almal saam die soort skool – deur betrokkenheid en omgee, óf deur onverskillige versuim.

Skole maak mense, ja, maar mense maak ook skole. Of nié.

Stukkies van die hemel op aarde

Подняться наверх