Читать книгу Stukkies van die hemel op aarde - Dirkie Smit - Страница 9

Goeiedag!

Оглавление

Elke alledaagse groet was vroeër bedoel as seën. Elke omgangsgroet – of dit nou “Môresê!”, “Goeienag!”, “Tot siens!” of “Gelukkige nuwe jaar!” is – rus op die oortuiging dat niks vanselfsprekend is nie; dat ons almal afhanklik is van genade en goedheid. ’n Alledaagse groet is altyd die verkorte vorm van iets langers, wat verskillende vorme kan aanneem, van ’n wens, toesegging of bede, tot ’n dankbetuiging.

As dankbetuiging speel die groet ’n sleutelrol in die Joodse lewensgevoel, in die sogenaamde beraka-gebede of voortdurende lof aan God – letterlik: om God te seën – vir alle barmhartighede. Ook die Nuwe Testament roep ons meermale op om God te seën vir sy ontferming. Vergelyk byvoorbeeld die 1983-vertaling se bewoording van 2 Korintiërs 1:3 (Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe) teenoor die meer letterlike 1953-vertaling (Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus).

Elke alledaagse groet verwoord die oortuiging dat die lewe met sy goedheid nie vanself spreek nie; dat dit bewustelik met dankbare erkentlikheid ontvang behoort te word, omdat dit ook anders kon wees. Elke groet herinner aan die wonder wat skuil in die gewone, die voorreg in die bekende, die grootsheid in die kleine.

In talle tale kan ’n mens dié stemming nog naspeur. Die Engelse goodbye beteken letterlik: God be with you. Of die bekende grüβ Gott, soos hulle in die suide van Duitsland graag groet, waar dié daaglikse dagsê op die klank af nogal dubbelsinnig is. Dit beteken letterlik “Groet (oftewel dank, of seën vir) God”, maar kom waarskynlik van grüβ dich Gott, oftewel “God groet jou!”.

In ’n strokiesprent groet twee bergklimmers mekaar, een reeds op pad af van bo, die ander nog op pad boontoe. Dis duidelik in die Tiroolse Alpe. Hulle is eenders uitgevat, Beierse hoede op die kop en leerbroeke tot by die knie, bergklimpikke en tou oor die skouers. Die een wat afkom, groet vriendelik: “grüβ Gott!” waarop die een van onder sê: “Ek klim ongelukkig nie só hoog nie.”

Sy dommigheid is klaarblyklik vir lesers snaaks. Maar wat verstaan hy nie? Waarom kry ons lag? Wat is eintlik so snaaks? Is dit sy gebrekkige taalkunde – sodat hy net die letterlike betekenis hoor en nie die idiomatiese ken nie? Of sy primitiewe kosmologie sodat hy dog hy moet êrens heen opklim om God te kan groet? Of dalk sy tekort aan lewenswysheid – dat hy nie sien dat hy God net daar kan dank vir die goedheid van die lewe nie?

Want rede vir dank het hy genoeg. Vir die pragtige dag in die Alpe, die berge, vars lug en wonderbare uitsig. Vir sy gesondheid, dat hy nog kan bergklim op sy leeftyd. Vir die pik en tou op sy rug en alles wat menslike wetenskap en tegnologie tot ons lewe toevoeg. Vir af dae, vrye tyd, en waarskynlik ook sy werk, waardeur hy dié klere kan bekostig. Vir die kulturele rykdom van sy Beierse hoed en Lederhosen, die sinvolle tuiste wat bekende omgewings daagliks aan ons bied. Vir die vredevolle groet van sy reisgenoot, en dat dié hom nie wil bykom met sy pik nie, maar kommunikasie, gemeenskap, vriendskap met hom soek. Vir die talente van die strokiesprenttekenaar wat hom verewig in ’n prentjie. Vir koerante om te lees. Vir humor wat ons lewe opvrolik.

Sien, hy tel nie lekker sy seëninge nie – dis dalk wat so snaaks is! Dis nie sy grammatika wat so swak is nie, maar sy somme!

In dié gees, laat ons tog mekaar leer groet, elke dag, met opregte bedoeling, en in elke moontlike betekenis, vanaf wens tot by bede: ’n goeie dag! Vol goedheid en seëninge van God, en vol dankbare erkentlikheid vir dié oorvloedige seëninge!

Stukkies van die hemel op aarde

Подняться наверх